Hiep, hiep hoera! Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 17 September 2021 07:16
Untitled Document

Met hierdie uitgawe vier ons die Bronnie se 19e bestaansjaar. Ons doen dit met oorgawe en ons doen dit met diepe en nederige dankbaarheid in ons harte.

Dit was nie ’n jaar sonder uitdagings, terugslae en kommerwekkende onsekerhede nie. Soos dit ook die geval was met baie ander publikasies, ondernemings en met baie van ons lesers, was dit allermins een wat deurgaans besaai was met maanskyn en rose of een wat altyd maklik was.

Daarom is ons des te meer dankbaar om nog ’n jaar deur die genade en met die ondersteuning van elke liewe adverteerder en gewaardeerde leser te kan vier en om met vreugde en hoop te kan uitskree: ‘Hiep, hiep hoera! Die Bronnie verjaar!’ Baie, baie dankie vir elkeen wat bygedra het om dit moontlik te maak.


Soos daar in elke spreekwoordelike modderpoel dan, die witste lelie te voorskyn kan kom, het dié moeilike jaar vir die Bronnie ook ’n onbeplande ‘lelie’ gebring. Ons elektroniese Bronnie se leserstal en gewildheid het met rasse skrede toegeneem.

In April 2020 was ons genoodsaak om die gedrukte glans-uitgawe van Die Bronberger ook elektronies te begin beskikbaar stel. Dit het meegebring dat ons sommer gou derduisende nuwe geesdriftige lesers uit ons gebied en van oor die land en die ganse wêreld bereik het. ’n Lekker 19e verjaardag-geskenk vir ons en veral vir ons adverteerders.

Oor 19 geseënde jare heen, is die Bronnie se bykans ongekende gewildheid vir ’n onafhanklike gemeenskappublikasie in sy teikengebied nie net deeglik gevestig nie, maar het dit gegroei en nuwe grond buite dié gebied gewen.

Hier op ons negentiende verjaardag, wil ons nie net dankie sê vir elkeen wat help om die Bronnie te maak wat hy is nie, maar ons wil ook hartlik geluk sê aan almal wat ons deur nog ’n jaar ondersteun en welkom laat voel het. Want aan julle kom die gelukwense toe. Gesondheid!

 

© 2024 Die/The Bronberger