Skaapkop sorg vir ander planne en geite Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 20 August 2021 10:35
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die kuierseisoen maak weer oop tot op die derde vlak en Metgesel sit rustig op die Saterdag hier neffens my en bespiegel oor watter nuwe kuierplek ons die volgende dag sou kon besoek. Ek verbeel my ek hoor verlangs iets van ’n nuwe plek op Grootfontein toe ek, effe in gedagtes van my eie opgeneem, sê: “Skaapkop”.

Metgesel is nie een wat haar maklik opruk nie, maar dit het vinnige en vernuftige verduideliking gekos om die sakie in die reine te stel. Die onskuldige ou woordjie ‘skaapkop’ het in my denke gestalte gekry en mond-uit geglip oor ek gedink het aan Sondag se winkel- en teetuindag by Willie Strauss se Sinkhuis op Cullinan. Gebakte skaapkop is op die spyskaart en dié het ek baie lanklaas genuttig, verduidelik ek. Net ’n misverstand, sê ek.

Klink vir haar eerder na ’n vermiste verstand – as iemand jou werklik die kop van ’n stomme skaap wil eet, meen Metgesel.


’n Stoepaansig van die Sinkhuis uit ’n ander hoek

Hoe dit ook al sy, ons neem ’n demokratiese besluit om nog dié keer ’n optel-en-waai-ete by Willie se winkeldag te loop haal en dit by die huis saam met die laaste van vlak vier se nood-wyntjie te geniet.

Deurslaggewend tot dié besluit is dat Vreethans op sy dag ’n trotse en aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Skaapkopgilde (regtig) was en dat die verlange groot is. Dit was in die dae toe groot geeste soos oorlede Faan Smuts, Mof Myburgh en Willem van Drimmelen deel van ons span was wat al die ander takke (ja, daar was baie) kafgeloop het in ’n nasionale Skaapkop-kompetisie in die Kaap.

Die ander rede is dat Wille se kombuis ook die heerlikste pasteie voortbring en Metgesel is nogal baie partydig vir ’n goeie hoenderpastei. Daarby gaan niemand kwaad wees of verkeerd dink as Metgesel my by die eet van ons aankope geregverdig van tafel sou skei nie. Sy wil dié skaapkop-etery asseblief tog net nie aanskou nie. Vreemd soms, dié Metgesel.


Metgesel se netjiese pastei-ete

Mense sit gesellig in die mooi tuin by tuintafels en kuier toe ek ons kop en pastei loop oplaai. Ander drentel tussen die unieke ware in die winkel rond of sit-en-staan met niks gedaan eenkant en lewe omdat dit ’n mooi louwarm en windlose dag is.

Willie laai ons aankope in die bakke wat ek saamgebring het. Ek verduidelik mooi dat die twee etes apart gehou moet word, anders is ek vanaand sweerlik van bed ook geskei.

Metgesel se pastei word saam met rys, ‘lekker slaai’ en pampoenpoffertjies voorgesit en sy eet heerlik, rustig eenkant en alleen – maar darem nie buite hoorafstand nie – net buite sig.


’n Halwe gebakte skaapkop stil diep verlange

My halwe skaapkop is oond-gebak, wat beteken dat hy so gou moontlik van die oond af op die bord moet beland, sodat die ‘skil’ bros kan bly. Ek is half teleurgesteld dat die halwe holte wat die halwe hersinkie moet huisves, leeg is. Lekkerste murg denkbaar, is daardie. Die gebakte borriepatats, heel uie en aartappeltjie werk perfek saam met die kop.

Destyds as jy aanvaar word by die Skaapkopgilde, is jy verplig om ’n Joseph Rogers knipmes saam met jou sertifikaat aan te skaf. Met goeie rede ook, vind ek weer uit met die halwe kop uit Willie se oond. Heerliker, sagter en geuriger kos kan ’n skaap kwalik oplewer, maar as jy elke stukkie wil loswikkel, terwyl jy tussenin kopstukke met jou kopgenote praat, is ’n knipmes net die regte gereedskap. Hou maar ’n ordentlike jammerlappie ook byderhand.  


Oral in die mooi tuin kuier mense gesellig by stylvolle tafels

My halwe kop was ’n vol, stewige maaltyd en ’n winskoop teen R130. Metgesel se ete het R90 gekos.

Willie hou sporadies winkeldae met teetuinetes. Ons verneem een (met skaapkop) word weer vir
22 Augustus beplan. Jy moet bespreek as jy ’n skaapkop wil hê. Vir meer inligting en bespreking bel of stuur ’n WhatsApp na 082-563-4527.

 

© 2024 Die/The Bronberger