Eeu-lange soektog na goue ponde in Platberg se arms Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 16 July 2021 07:08
Untitled Document

Angie Kleijn

Iewers op Platberg by Harrismith lê ’n saalsak vol goue Krugerponde en munte nou al vir 122 jaar lank begrawe. Afstammelinge van die man wat dit voor die Engelse Oorlog in 1899 uitgebreek het daar begrawe het, soek vandag steeds daarna.

Tannie Philippé Otto, ma van dr Johan Otto van die Premiermyn Hervormde Kerk op Cullinan, vertel dat haar oupa Wessels die saalsak daar begrawe het. Sy was ’n nooi Wessels, gebore op 6 Mei 1940, en haar oupa was Johannes (of Lodewikus) Philippus Wessels. Toe die oorlog teen die Kakies uitgebreek het, was haar pa ’n klein seuntjie en voor sy pa by die kommando aangesluit het, het hy hom saam teen Platberg laat opklim.


Tannie Philippé Otto

“Oupa het ’n saalsak saam met hom geneem. Toe hulle hoog in die berg by ’n oorhangende rots kom, het hy ’n byltjie of grafie uit die saalsak geneem. Daar was ook ’n onbekende aantal goue Krugerponde en ander munte in die sak,” sê tannie Philippé.

“Oupa het ’n gat gegrawe en die saalsak vol geld daarin gesit en toegemaak. Oupa het vir my pa gesê hy moet mooi kyk waar die sak begrawe is en dit onthou. Hy het ook die byltjie of grafie langsaan begrawe, maar nie so diep nie. Sou oupa nie die oorlog oorleef nie, moes my pa die sak gaan haal wanneer hy groter is en vir ouma gee vir oorlewing,” sê tannie Philippé.

Oupa Wessels is oorlog toe en het ’n skerpskutter en spioen geword en tannie Philippé se ouma, haar pa, sy suster en jonger broer is gevang en konsentrasiekamp toe geneem, waar die broertjie oorlede is.


Die konsentrasiekamp is in Maart-April
1901 geskuif
Foto: Concentration Camps Anglo Boer War


’n Gedeelte van die kampe met ’n regiment se kenteken teen Platberg se voetheuwels
Foto: deoudehuize

Die konsentrasiekamp was aanvanklik agter die dorp en is gereeld oorstroom. In Maart-April 1901 is die kamp na die voetheuwels van Platberg, noord-oos van die dorp geskuif en vloedwater kon hier beter dreineer. Teen dié tyd was daar ongeveer 900 vroue en kinders en die 275 mans was glo meestal hensoppers.

Die kamp is op 29 en 30 November 1901 geïnspekteer en toe was daar 1 646 mense: 143 mans, 540 vroue en 963 kinders wat meestal in 260 tente gebly het. Daar was ook groter markiestente en 20 huise uit modder en sink.

Die hospitaal was aan die suid-westelike hoek van die kamp en daar was drie markiestente vir pasiënte met ingewandskoors en vier vir dié met masels. ’n Skool in die kamp het uit ’n gebou en vyf markiestente bestaan en daar was 350 kinders op die klasregisters.


’n Wa op pad na Harrismith-konsentrasiekamp
Foto: historyworkshop.org.uk
.


’n Poskaart van Harrismith met Platberg
in die agtergrond
Foto: ebay

Spioen
Met sy gesin in die konsentrasiekamp, het niemand geweet waar tannie Philippé se oupa was nie. “Oupa was ’n knap spioen en skerpskutter en die Kakies was desperaat om hom te vang,” sê sy.

“Hy het die opdrag gekry om ’n sekere hooggeagte Kakie te elimineer. ’n ‘Joiner’ het van die opdrag geweet en het geweet waarheen oupa die besondere dag sou gaan. Daar was nie sekerheid of hy of ’n ander Kakie vir oupa sou voorlê nie. Toe oupa van sy perd afklim om ’n plaashek oop te maak, is hy doodgeskiet.”


Die konsentrasiekamp, geneem in ’n suid-westelike rigting
Foto: Harrismith Camp | Earth photos

Baie jare daarna het tannie Philippé se suster vir haar vertel dat sy ’n vriendin het wat by ’n ouetehuis in Port Shepston werk en dat daar ’n ou omie was wat gesê het dat hy ’n Wessels-spioen by ’n plaashek geskiet het. “Dit kon net my oupa wees. Teen die tyd dat ek die storie gehoor het, was die ou omie al dood.”

Met die drie-jaar-lange oorlog, hulle verblyf in die konsentrasiekamp en die 10 jaar van Britse okkupasie ná die oorlog, waar regimente in kampe teen Platberg se hange gewoon het, het tannie Philippé se pa heeltemal vergeet dat hy veronderstel was om die saalsak te gaan opgrawe. Hy het die opdrag eers toe hy self al getroud was, probeer uitvoer.


“Hier en in hierdie onmiddellike omgewing is ongeveer 193 vroue en kinders begrawe”
Foto: graves-at-eggsa.org

Volgens die kenners is Platberg 9 km lank en staan 2 394 meter hoog. “My pa en my susters en broer het vir jare gaan soek. My pa kon natuurlik nie onthou waar die rots was nie. So, die sak met sy skatte lê steeds in Platberg se arms,” sê tannie Philippé.


Harrismith-konsentrasiekampkerkhof: 1899 – 1902
Foto: graves-at-eggsa.org

Donkerhoek
Tannie Philippé het dié verhaal aan Die Bronberger vertel toe sy onlangs ná ’n operasie by haar seun en sy vrou, Johan en Yvette Otto, op Cullinan aangesterk het. Sy het ook vir ’n rukkie by ’n vriendin op Donkerhoek gekuier en dié vriendin het haar dinge gaan wys wat sy nooit sal vergeet nie: ’n Huis met ’n kas waarvan die deure vanself oop en toe gaan. Geen mens kan egter die kasdeure oopmaak nie.

Ligte gaan aan en af en ’n groot kandelaar swaai rond sonder dat daar ’n luggie trek. Tannie Philippé sê dat die grootste fout by die huis se kaggel lê en dat die mense onder die kaggel moet uitgrawe. Sy is seker dat iets of iemand daar begrawe is. Dié idee kom uit ’n ware verhaal wat haar ouma vertel het.


’n Saalsak lyk só. Dié een het president MW Pretorius van sy pa, kommandant-generaal Andries Pretorius, geërf en is in die President Pretorius-museum op Potchefstroom
Foto: eensgesind.com

“My ma se ouers het op ’n plaas in Natal gebly. Op die buurplaas het die eienaars dikwels verander en niemand het geweet hoekom nie tot ’n besonder spraaksame buurman ingetrek het en ná net twee of drie maande vir oupa kom sê het hulle kan nie meer nie, hulle gaan trek.”

Die buurman het vertel dat hulle die kind se gehuil snags nie meer kan hanteer nie. “Nou oupa was ’n man van daad en het die polisie laat kom. Intussen het die ander bure gehoor en ’n hele paar mense het opgedaag. ’n Vrou stel toe voor dat hulle die huis se plankvloer oplig, want sy ‘voel’ daar is iets. Toe spring die klomp mense aan die werk en breek vloere op en jou waarlik, onder die een slaakamer se vloer vind hulle toe die toegedraaide lyk van ’n kind of ek moet eerder sê die geraamte.”

“Deur die jare het die plaas soveel inwoners gehad dat die polisie nie kon uitvind wie die ou kindjie daar gesit het nie. Die beendere is in die kerkhof op die plaas begrawe en die gehuil is nooit weer gehoor nie.”


Die Britse blokhuis wat teen Platberg by Von During en Hawkins-damme opgerig is
Foto: samilitaryhistory.org

Voorbode
Tannie Philippé vertel dat haar ouma 18 kinders gehad het. Sondae het die dogters in ouma-hulle se kamer op bankies gesit en het haar gehelp met die herstel van klere. Die jongste dogtertjie was vier jaar oud en sy het gewoonlik onder die hoë katel ingekruip om pop te speel sodat sy nie onder die susters se voete is nie.

Op ’n dag hoor hulle hoe sy lag en gesels – glo met ’n mooi wit hond. So paar dae later kom sy huilend onder die katel uit en kla dat daar nou ’n groot swart hond is wat vir haar knor. Dié keer het almal onder die katel ingeloer, maar daar was niks nie.

Kleinsus het skielik baie siek geword en is twee dae later dood. “Baie mense het daardie jare aan voorbodes geglo en my ma het geglo dat haar sussie haar eie einde gesien het,” sê tannie Philippé.


’n Hedendaagse foto van die ingang na die Harrismith-gedenktuin op die dorp met Platberg in die agtergrond
Foto: http://dmcanon.blogspot.com

Voetstappe
Tannie Philippé het self vir jare in ’n huis gebly wat spook. Terwyl hulle die huis gebou het, het hulle eers in ’n woonwapark gebly en het by die buurman gehoor dat hy gereeld ’n man in een van die huis-in-aanbou se vensters gesien het.

“Ons was maar baie skepties en het ons nie aan sy stories gesteur nie tot my seun en ’n vriend een aand gaan kyk het en ook die man gesien het,” sê sy.

Toe die huis amper klaar was, het die gesin onder in die motorhuis kamp opgeslaan. Daardie dag het die bouers vloer gelê en geel plastiese toue voor elke deur gespan. Die nag het hulle wakker geword van voetstappe in die huis, maar geen voetspore is op die sement gevind nie. Hulle het 20 jaar daar gebly en die spook is gereeld so met die verbygaan gesien. Hy het tannie Philippé net een keer bang gemaak. Sy was die oggend 2 uur nog besig om te bak. “Skielik het die kombuis yskoud geword en my hare het gevoel of dit regop staan. Ek het net gesê: Okay, okay, ek gaan nou slaap. Ek het die oonde afgesit en alles net so gelos,” sê sy.


Retiefstraat, Harrismith met Platberg in die agtergrond
Foto: mediastoriehouse.com

Hospitaal
Tannie Philippé was nie die enigste een in haar gesin wat spoke ervaar het nie. In die 1960’s was haar oorlede man in die polisie en hy moes hospitale, waar ’n gevangene behandel word, besoek om seker te maak die konstabel hou voor die gevangene se deur wag.

“So moes my man en die sersant een nag weer ’n hospitaalbesoek doen. Die lang gange het klein liggies teen die mure gehad, sodat jy nie heeltemal in die donker loop nie. In dié half-donker gang sien hulle ’n dokter met ’n wit jas aankom.”

So paar tree van mekaar af gaan almal stilstaan en die sersant vra die dokter waar die kamernommer is. Stilte. Hy vra weer en weer niks nie. Die twee polisiemanne sit hulle flitse aan om die dokter behoorlik te kan sien en toe skyn die ligte dwarsdeur hom.

Selfs wanneer hulle op vakansie gegaan het, het die spoke nie weggebly nie. Tannie Philippé vertel van ’n keer toe hulle die enigste gaste was in ’n ou huis uit die 1800’s op Kimberley. Hulle is die hele nag deur ’n vrou se gehuil wakker gehou en het naderhand die leë huis, wat die eienaar besig was om te restoureer, deursoek sonder om iemand te vind.


Die Harrismith-kommando, wat in 1899 gestig is, se embleem
Foto: Wikipedia

Ook het hulle een keer saam met vriende see toe gegaan en kamp opgeslaan langs ’n rivier wat uitgemond het waar ’n skip gesink het. Die vroue en dogters het langs die rivieroewer gaan stap en iets gesien wat hulle nooit vergeet het nie.

Aan die oorkantse oewer, tussen die riete, het ‘iets’ gestaan met ’n mantel om en ’n kappie op die kop, wat die gesig wegsteek. Almal het geroep en gewaai maar geen reaksie gekry nie en aangeloop.

Met die terugkomslag was die ‘wese’ nog daar en toe kon hulle mooi sien dat dit geen bene het nie, maar oor die riete sweef, sê tannie Philippé.


Die gedenkbord sê dat dié dorp-gedenktuin in 1938 deur kolonel JFJ van Rensburg, administrateur van die Oranje Vrystaat en generaal Wessel Wessels, Harrismith, onthul is
Foto: boerenbrit.com

 

© 2024 Die/The Bronberger