Wonderwerk-welpies word wild gehou Print E-mail
News - Artikels
Friday, 16 July 2021 07:08
Untitled Document

Vyf piepklein jagluiperd-welpies is vroeër vanjaar wees gelaat toe hulle ma in die Dinokeng Wildreservaat noord van Cullinan, in ’n strik gevang en afgeslag is. In Junie is beeldmateriaal, ‘Meet the Miracle Five’, wat wys hoe dit met dié welpies gaan, vir die eerste keer bekendgemaak.

Kevin Richardson, wêreldbekende wildbewaarder en filmmaker, grootliks bekend as die ‘Leeu- fluisteraar’, het dagboek-video’s gemaak wat beeldmateriaal insluit van die jagluiperdwyfie wat deur stropers afgeslag is vir haar vel. Haar oorskot is in ’n spruit gegooi.


Een van die wees-welpies
Foto: Dinokeng Wildreservaat

Die welpies is die ‘Miracle Five’ gedoop omdat dit ’n wonderwerk was dat hulle almal oorleef het. Die Kevin Richardson Foundation en Dinokeng Wildreservaat het ingespring om dié welpies ’n tweede kans te gee met die doel om eendag na die wildernis terug te keer. Daar word beraam dat hulle oor twee jaar vrygelaat sal kan word.



Die welpies by hulle binnenshuise skuiling
Foto: Skermgreep: Kevin Richardson Foundation



Die welpies in hulle buitekampie
Foto: Skermgreep: Kevin Richardson Foundation

Die storie het begin toe Dinokeng se teen-wildstroop span agtergekom het dat ’n wyfie jagluiperd, wat onlangs welpies gekry het, se GPS satelliet-halsband ophou beweeg het. Hulle het dadelik ’n span uitgestuur om na haar te begin soek, wel wetende dat dié soektog ’n resies teen tyd is. Die welpies was vyf tot ses weke oud en sou net vir 24 tot 48 uur kon oorleef voor hulle begin dehidreer en ’n gewisse dood in die oë staar.


Die welpies is nog wild en blaas en krap as mense nader kom
Foto: Kevin Richardson Foundation

Dinokeng se span het vier klein manlike welpies by die den gekry. Hulle is ’n paar weke voorheen, net ná hulle geboorte, gesien en iemand het onthou dat daar vyf welpies was. Waar was die vyfde een?

Die vier welpies is solank na dr Peter Caldwell by die Old Chapel Veeartskliniek in Pretoria vervoer. Hulle was skaars daar toe nuus gekry is dat die vyfde welpie, die enigste wyfie, ook gevind is. Sy het ’n entjie van die den af weggekruip.


Hulle begin vertroue kry om die buitekant te ondersoek
Foto: Skermgreep: Kevin Richardson Foundation

Daar is besluit om die vyf welpies te versorg by die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary in die Welgedacth private reservaat tussen die Bobbejaansberge en Boekenhoutspruit, wat deel van die Dinokeng-reservaat vorm.

Permitte is verkry en personeel by dié veilige hawe het gou ’n kamp vir die welpies gereed gemaak. Dit het ’n strooi-bed, ’n groot vervoerkrat as wegkruipplek in die nagkamp, infrarooi lampe vir hitte en kos- en waterbakke ingesluit.

Die nagkamp het ’n hek wat lei na ’n klein buitenshuise kampie waar die welpies kan rondhardloop. Die heinings is aan die buitekant geëlektrifiseer om die welpies teen indringers te beskerm.


Vyf piepklein welpies is wees gelaat
Foto: Dinokeng Wildreservaat

Dr Peter en sy assistent Nikki het die kamp ondersoek en die groen lig gegee. Die welpies is na hulle nuwe tuiste geskuif ná hulle ontwurm en ingeënt is. ’n Uur ná hulle aankoms het die braafste welpie reeds die buite-kampie begin verken.

Daar is besluit om nie vir die welpies bottelmelk te voer nie, omdat dit te veel kontak met mense sou wees en die welpies kon dalk mak begin word. Hulle is dadelik op ’n vleissop dieet geplaas en is vyf keer ’n dag gevoer. Die heel kleinste welpie het ná ’n paar weke begin sukkel. Die versorgers het gesien dat hy niks vreet nie en toe hy begin braak is die hele werpsel na dr Peter geneem. Blykbaar is die probleem veroorsaak omdat die welpies so vroeg aan ’n nuwe dieet blootgestel is en dit het spanning op die kleinste enetjie se onvolwasse spysverteringstelsel geplaas.


Waar is ons nou?
Foto: Skermgreep: Kevin Richardson Foundation

Dié kleintjie was onder dr Peter se sorg binne twee weke weer blakend gesond. Al die welpies het goed begin gewig optel en is later op ’n dieet van fyngemaalde hoender en rooibok geplaas met ekstra bloed en water bygemeng, asook ’n reeks aanvullings. Alle kos word versigtig geweeg en uitgemeet en word teen liggaamstemperatuur bedien.

Teen Junie het die welpies nog nie name gekry nie, maar elkeen is op ’n ander plek op die lyf geskeer sodat hulle uitmekaar geken kan word. Die goeie nuus is dat die streng afskorting tussen versorgers en welpies lyk of dit werk en die welpies ‘wild’ genoeg bly sodat hulle eendag vrygelaat kan word.

 

© 2024 Die/The Bronberger