Nederige naaldwerkgroepie groei groot oor eeu Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 16 July 2021 07:06
Untitled Document

’n Vereniging wat ontstaan het uit ’n groep Duitssprekende vrouens, wat in 1921 saam naaldwerk gedoen het, bestaan vandag nog. Die Groenkloof-gebaseerde Deutscher Frauen Verein Pretoria (DFVP) het in Junie sy honderdste bestaansjaar gevier.


Die DSW-woonstelblok word op die hoek van George Storrar- en Schroederstraat,
Groenkloof gebou
Foto’s: Verskaf

Ten spyte van sy klein en nederige ontstaan as ’n naaldwerksirkel, het die Verein in ledetal en krag aanhou groei om die groep se hoofdoel – gemeenskapsdiens – gestand te doen. Hulp is in die Tweede Wêreld-oorlog en ná-oorlogse tydperk, nie net op plaaslike vlak nie, maar ook internasionale gegee.


Deutscher Frauenverein zu Pretoria vandag

Fondse is ingesamel deur straatkollektes, basaars, koekverkopings en ’n Duitse restaurant by die Pretoriase Skou. Finansiële ondersteuning is ook deur trusts, soos die van Kley-Wolter-, Hermann Ohlthaver- en Hans Merensky-trusts, gebied.


Die vrouens is in 1971 besig om kos vir een van die geldinsamelingsprojekte voor te berei. Van links na regs: Frau M Ohlhorst-Rügge; Frau Egerer, Frau J Penzhorn, Frau S Haug, Frau L Löwe en
Frau Friedland

Die aktiewe Verein kon in 1963 die Altersheim (ouetehuis) met versorgingseenheid tot stand bring en 20 jaar later DEFRA (self-versorgende eenhede) laat bou. Die Deutsches Senioren Wohnheim (DSW) is in 2006 geopen.


Frau J Penzhorn en Frau Egerer in die besige ‘Duitse’ kombuis

’n Eeufeesuitgawe, “Festausgabe”, is vanjaar uitgegee, verskeie byeenkomste is gereël en plaaslike en internasionale gelukwense het ingestroom. ’n Delikate roos, “Frauenverein”, is deur Ludwig’s Rose gekweek en ’n resepteboek, ‘Omis Küche’ (Ouma se Kombuis), wat smulresepte van die vorige en huidige generasies bevat, het die lig gesien.


’n Besending handgemaakte kledingstukke van die naaldwerkgroep en kos vir hulpbehoewendes in die ná-oorlogse tydperk. Die foto is in 1950 geneem

“Vertrou op die toekoms” is dié instansie se slagspreuk en dit is presies wat die Verein as visie voorhou: Om met vertroue die volgende 100 jaar tegemoet te gaan om die gemeenskap, soos in die verlede, te dien.


Frau Liddy Löwe wat vir baie jare aktief meegehelp het en ook voorsiter was

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger