Rugby kry vroulike bulle en honde Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 16 July 2021 07:03
Untitled Document

Hy is amper seker niemand sou destyds in hulle wildste drome kon raai dat die skoner geslag eendag volwaardige provinsiale en internasionale rugby sou speel en hulle eie slegs-vir-vroue-rugbyspanne in die veld sou stoot nie – met permissie gesê, sê Gert Mossie.

Rugby was mos ’n man se spel. En dit was maklik, natuurlik en reg om sterk, manlike name, byname en konsessie-name vir spanne (en spelers) te kies.

Maar, sê Gert, soos met alle mooi en goedbedoelde dinge, bly niks mos dieselfde nie – as jy nou vir Riaan Cruywagen buite rekening laat.

So sit hy nou die anderdag oor ’n tydperk voor die rugbykyk-kassie en beskou die vroulike weergawe van ’n interprovinsiale toernooi. Amper soos die Curriebeker, maar sonder rugbyspelers en met rugbyspeelsters.

Hy het nie veel teen die feit dat sportvroue die edele spel wil speel nie en dink so by homselwers dat dit ook net moontlik geraak het met die laaste aantal jare se reëls wat so versissie het dat jy nie eers meer ’n ou mag ‘koller’ of in die grond in boor nie – maar dis ’n ander saak, sê Gert.

Die groot dilemma, dink hy, het by die vroue-span-name opgeduik. Die eerste wedstryd wat hy byvoorbeeld gekyk het, was tussen die vrouespanne van die ‘EP Kings’ en die Blou Bulle. Nou ja, sê Gert, vir die Oostelike Provinsie was dit maklik om die vrouespan bloot die ‘EP Queens’ te doop. Hoewel, noudat hy daaraan dink . . . maar toemaar, ons hou liewer verby.

Almal weet tog wat die vroulik vir bul is en hoe juis en hoe korrek dit ook al is, hoe sou dit dan nou klink? Stel jou net die kommentaar voor: ‘Wolkombers van Wyk’ (ja, rugbyspelers kry dikwels gepaste byname) ‘is die Blou Koeie se voorslag baljagter’.

Hy weet nie hoe lank daar om raadtafels kopgekrap is nie, maar die naam (Engels) wat vir die vroulike Blou Bulle gekies is, bly effe verdag en ongemaklik: The Blue Bull Women. Só staan die stomme span vroue amptelik bekend. Dalk moes iemand die minder krasse ‘versies’ oorweeg het: Die Blou Versies?

Grens se rugbybase kon eensgelyks dalk met ’n dergelike probleem gesit het, sê Gert. Want dié gebied se mans-span heet die Border Bulldogs. Nou, sou ’n ‘bulldoghond’ se Afrikaanse en Engelse vervrouliking name na vore gebring het wat maklik as kwetsend gesien sou kon word. Daarom is blykbaar besluit om die hond as te ware haaraf te maak en die vrouespan is die ‘Border Ladies’ genoem. Hy hoop tog nou net nie ’n aspris iemand gaan ‘biets en teef’ oor die ‘ladies’ dalk net met ’n ‘kamerverlaat’ te make mag hê nie.

Vir die vrouespan van die Boland Kavaliers wil hy tog ’n lansie breek (wat is die Afrikaans vir ‘pun intended’?) omdat hulle die enigste span is wat ‘dames’ genoem wil wees. Op goeie Afrikaans: Die Boland Dames.

Spanne soos die Leeus, Luiperds en Haaie is in dié gelukkige posisie dat dit nie regtig nodig is om hulle ‘wyfies’ te noem nie. Dit sou taalkundig heeltemal korrek wees om van ’n leeu- of haaiwyfie te praat, maar geslags- en polities sekerlik nie, sê Gert Mossie.

Die Vrystaat, dink hy, is in dié geval dalk in die heel beste posisie. Of jy nou mansrugby of vrouerugby speel – almal vry tog iewers ook langs die pad.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger