Hartseer einde aan soektog na vermiste man Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 16 July 2021 06:54
Untitled Document

Die soektog na die 30-jarige Shane Jordaan, wat op 4 Junie uit Kairos-tehuis buite Rayton verdwyn het, het tot ’n hartseer einde gekom. Sy liggaam is op 3 Julie teen ’n rivierwal langs die ou Cullinanpad (R513) gevind.

Die verstandelik gestremde Shane is op 4 Junie tussen 6 nm en 7 nm vir die laaste keer by die Kairos-tehuis, waar hy vir 11 jaar lank ’n inwoner was, gesien. Verskeie soektogte is van stapel gestuur en sy gesinslede het ook by hospitale en lykshuise na hom gesoek.


Shane Jordaan
Foto: Verskaf

Karen Yssel, voorsitter van die Cullinan-gemeenskappolisiëringsforum (GPF), het in Junie verduidelik dat Shane nie regtig kon praat nie; dat hy doeke moes dra, versorging benodig het en afhanklik van sy medikasie was.

Die gemeenskap van Rayton en Cullinan het op 16 Junie ingespring om te help met die reuse soektog na Shane. Gemeenskapslede, lede van die GPF, verskeie veiligheidsmaatskappye en die polisie se soek-en-reddingseenheid en hulle honde-eenheid asook die plaaslike BraveHeart K9 het die gebied om die tehuis gefynkam. Perde, mikro-vliegtuie en helikopters is ook ingespan.


Die gemeenskap staan op 16 Junie saam om Shane te help soek
Foto: Eus de Clerk

Volgens Jomari Delport van Deftac-sekerheidsdiens is Shane se Bybel met daardie soektog knap ’n paar meter vanaf Kairos-tehuis in die veld gevind.

Jomari het gesê dat die soektog op 3 Julie om 9 vm op die Nooitgedachtpad begin het en dat daar besluit is om die rigting van die soektog te verander. Ná slegs ’n uur en ’n half is Shane se liggaam gevind en positief geïdentifiseer. Sy sê dat hy onder meer aan sy klere uitgeken is. Sy pa en suster was glo ook op die toneel.


Perderuiters het ook ingespring om te help soek
Foto: Eus de Clerk

Shane se suster, Christan, het vertel dat die familie stukkend is en sukkel om dié verlies te verwerk. Hulle het hulle suster vyf jaar gelede in ’n motorongeluk verloor. Sy bedank almal wat met die soektog na Shane gehelp het en sê die familie is dankbaar vir al die boodskappe van ondersteuning wat hulle ontvang het.

Teen die Bronnie se saktyd het Cullinan-polisiestasie se woordvoerder, konstabel Connie Moganedi, gesê dat die ondersoek voortgaan om die oorsaak van Shane se dood te bepaal.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger