Drawwer se dood gryp gemeenskap aan Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 16 July 2021 06:54
Untitled Document

’n Man wat langs Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) in Faerie Glen gedraf het, is op
23 Junie raakgery. Hy kon aanvanklik nie uitgeken word nie en is na die Steve Biko-hospitaal geneem waar hy die volgende dag dood is. Die roerende soektog na sy identiteit het inwoners in dié gebied aangegryp.

Concerned Citizens South Africa het foto’s van die onbekende drawwer se tekkies, sleutels en beskadigde horlosie op sosiale media gedeel om sy familie te probeer opspoor. Hy het geen identifikasie of selfoon aan hom gehad nie.

Casper Visser, direkteur en stigter van Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU), het onverpoos gewerk om die man se naasbestaandes te probeer opspoor. Hy het vertel dat die man, vermoedelik in sy 40’s, ongeveer 5 nm tussen Old Farm- en Petrickweg langs Hans Strijdomrylaan gedraf het toe hy deur ’n motor getref is en ernstige kopbeserings opgedoen het.

Casper sê dat die motorbestuurder die ongeluk by die naaste polisiestasie aangemeld het. Die drawwer het die besige pad glo op ’n plek waar geen voetgangeroorgang was nie, probeer oorsteek.


’n Foto van die drawwer se besittings is op sosiale media gedeel
Foto: Concerned Citizens, SA

Die dag ná die man se dood het iemand Casper gekontak en gesê hy vermoed dat die onbekende drawwer sy broer is. Die inligting wat hy gegee het, het vir Casper reg geklink en hy het hom na die Steve Biko-hospitaal verwys waar hy sy broer toe wel uitgeken het.

Die drawwer was ’n Egiptenaar, wat in Suid-Afrika gewoon het, en sy broer, wat ook hier woon, wou nie kommentaar lewer of sy naam bekend maak nie.

“Ons is verlig dat ons met die hulp van ons wonderlike gemeenskap die uitkenning kon moontlik maak,” het Casper gesê. Casper het die man se broer met die saak by die polisie gehelp en ook om sy broer se oorskot uit die staatslykhuis te kry sodat ’n begrafnis gereël kon word.

Casper het VEMRU, ’n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy wat van skenkings en borgskappe afhanklik is, in 2019 op die been gebring. Dié oud Hoërskool Garsfontein-leerling het vroeg in sy lewe reeds as vrywilliger by private ambulansdienste begin werk. Hy het by SRQ Academy of Emergency Care studeer en sê dat hy ná ’n paar jaar in die noodbedryf agtergekom het dat daar ’n gaping is wat gevul moet word.


VEMRU se Casper Visser en sy vrou, Tammy
Foto: Facebook

Daar is mense wat nie ’n private ambulans kan bekostig nie en wie se beserings so ernstig is dat hulle nie vir ’n staatsambulans kan wag sonder enige vorm van stabilisering nie. Dis hoekom Casper aanvanklik besluit het om ’n voertuig in die ooste van Pretoria op die pad te sit om dié gaping te vul.

Vandag kontak die polisie en sekuriteitsmaatskappy vir VEMRU as so ’n diens in dié gebied benodig word.

“Ons stuur nie vir jou ’n rekening ná ons jou gehelp het nie,” sê Casper se vrou en vennoot, Tammy. Alles is net op borge en skenkings gebaseer.

Besoek www.vemru24.co.za, skakel 082-893-6873 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger