Egpaar op Welbekend aangerand Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 16 July 2021 06:53
Untitled Document

’n Egpaar is in die vroeë oggendure van 1 Julie in die Welbekend-distrik aangeval. Dit was die tweede aanval op hulle binne twee jaar.

Volgens AfriForum se Noordstreek veiligheidskoördineerder, Llewellyn Hemmens, het die man ongeveer 1.30 vm buite na musiek geluister toe hy deur drie aanvallers oorval is en met ’n panga oor die kop geslaan is.

Sy vrou was binne toe sy die geraas hoor, maar het gedink dat haar man na ’n fliek kyk. Sy wou hom gaan vra om die klank sagter te sit toe sy in die aanvallers vasgeloop het. Hulle het haar vasgebind en sy is glo deur een van die aanvallers seksueel aangerand.


’n Bloedspoor op die toneel
Foto: Verskaf

Die aanvallers het die huis geplunder, ’n sak oor haar kop getrek en het haar saam met items wat hulle gesteel het, van skootrekenaars en selfone tot ’n grassnyer en 10 skape, in die egpaar se wit Ford Ranger bakkie gedwing.

Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Kay Makhubela, het die aanvallers die vrou na hulle skuiling in die Waaikraal informele nedersetting geneem, waar die gesteelde goedere afgelaai is. Hulle het haar daarna na ’n kitsbank in Delmas geneem, waar hulle haar beveel het om geld te trek. Die perseel was egter gesluit en hulle het na ’n stil plek gery en vir die vrou die bakkie se sleutels gegee en beveel om terug te ry plaas toe.

Intussen het haar bebloede man sy bewussyn verloor, weer herwin en het na die plaaswerkers se huis gegaan om hulp te ontbied. Die plaaslike buurtwag het ’n soektog na die aanvallers begin. Die polisie, met die hulp van ’n voertuigopsporingsinstansie, het die gesteelde goedere en skape gevind.


Die egpaar se gesteelde skape is in ’n skuiling gevind
Foto: Verskaf

Een verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en ’n tweede, ’n rukkie later. Kaptein Kay Makhubela het gesê dat hulle aangekla word van huisbraak, seksuele aanranding en die besit van vermeende gesteelde goedere.

Teen die Bronnie se saktyd was die derde verdagte nog op vrye voet.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger