Inheemse antwoord op die Jakaranda Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 16 July 2021 06:52
Untitled Document

Vanwykshout word as die inheemse antwoord op die Jakaranda beskou. Diegene wat so ’n skouspel nog nie ervaar het nie, kan gerus in die lente kyk hoe massas van dié bome in blom by die Pretoriase Nasionale Botaniese Tuine lyk.

Wanneer dié besonderse boom blom kan ’n mens die rede vir sy Engelse naam, ‘tree wisteria’, duidelik sien. Skakerings van pers blomme hang in trosse blomtakkies, wat tot 30 cm lank kan word. Ná die blomtyd vorm daar papieragtige bruin saadpeule.


Die boom in die veld
Foto: Wikipedia

Vanwykshout se Latynse naam, Bolusanthus speciosus, verwys ook na sy blomme. ‘Speciosus’ beteken ‘skouspelagtig’. Hy is vernoem na Harry Bolus (1834 tot 1911), ’n Suid-Afrikaanse botanikus en stigter van die Kaapstadse Bolus Herbarium.

Dié is ’n klein tot medium-grootte boom wat so agt meter hoog en vier tot ses meter wyd kan word. Hy is ’n bladwisselende boom met hangende takke, maar is slegs vir ’n baie kort rukkie in die laatwinter sonder blare voor nuwe blare in die lente uitgestoot word. Goeie nuus is dat sy wortelstelsel nie skade aanrig nie.


Vanwykshout in blom by die Pretoriase Nasionale Botaniese Tuine
Foto: David Becking

Die boom maak soms ’n klomp stamme van grondvlak af, maar kan gesnoei word sodat net een sterk stam sal groei. Die bas is bruin-grys, baie grof en gebars. Sy hout is hard en termiet-bestand en word gebruik om meubels en heiningpale te maak.

Tradisioneel word die wortels vir maagprobleme gebruik en die binneste dele van die bas word teen maagkrampe aangewend.


Individuele blomme lyk baie na ertjie- en pronkertjieblomme
Foto: Wikipedia

Vanwykshout groei maklik van saad, wat oornag in water geweek moet word. Plant dit in riviersand in ’n houer en maak dit liggies met fyn sand toe. Plant die boompies uit nadat die tweede blaartjie verskyn het.

Die boom kan ligte ryp weerstaan, maar moet eerder die eerste paar jaar daarteen beskerm word. Hy kan ook redelike droogtes weerstaan, maar moet in die middelsomer se intense hitte genoeg water kry.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger