Geliefde leraar sterf aan Covid-19 Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 16 July 2021 06:48
Untitled Document

Denker, filosoof, skrywer en leraar, dr Abel Pienaar, is op 1 Julie in ’n hospitaal in Pretoria-Oos aan Covid-19 oorlede.

Abel was hoofleraar van Renaissance, ’n geestelike gemeenskap in Die Wilgers, wat as ’n veilige ruimte, wat ’n alternatief vir eerlike geestelike reisigers en vrydenkers skep, beskryf word. Hy was ook direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit.

Abel het twee grade in Teologie (Universiteit van Pretoria) en ’n doktorsgraad in Filosofie van Godsdiens. Hy het langer as ’n dekade as voltydse leraar in die Nederduits Gereformeerde Kerk gewerk, onder andere by die NG gemeente Skuilkrans.

Abel het in 2006 uit die NG Kerk bedank en het onder Thich Nhat Hanh in Frankryk studeer en het ook geleer by of is blootgestel aan die denke van die huidige Dalai Lama, Fr Thomas Keating en prof Kobus Krüger.

In 2007 het hy die Renaissance-gemeenskap gestig en het ook ’n beradingspraktyk gehad, waar hy veral met verhoudings en geestelike begeleiding gewerk het.


Abel Pienaar
Foto: Facebook

Abel het in radio- en TV-programme opgetree, verskeie artikels vir tydskrifte en koerante geskryf en het aan heelwat boekpublikasies as skrywer en medeskrywer gewerk. Sy eerste boek, ‘Saam op soek na God: Soeke na ’n eietydse spiritualiteit’ is in 2010 gepubliseer en sy laaste boek, ‘TAO van wakker word’, het knap voor sy afsterwe verskyn.

Jean Oosthuizen skryf in ‘In memoriam: Abel Pienaar’ op LitNet dat dié boek twee dae voor Abel se dood by Jean se huis afgelewer is, terwyl Abel op ’n ventilator in die hospitaal besig was om vir sy lewe teen Covid-19 te veg. Hy sou nooit die voorreg hê om die boek self vas te hou nie.

Johan Coetzee van Naledi, wat Abel se boek uitgegee het, sê dat Abel met die moed van sy oortuiging gelewe het. Ook so het hy geskryf – met beklemtoning van die nou. “Vandag moet sinvol en bewustelik geleef word. More is onseker. Word wakker!”

Abel laat sy vrou, Zelda, vier kinders en kleinkinders agter.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger