Jong ietermagog uit stropers se kloue gered Print E-mail
News - Artikels
Friday, 18 June 2021 05:50
Untitled Document

Drie verdagtes is op 1 Junie by die Jan Ellis-sentrum op die hoek van die Ou Bronkhorstspruitpad en Cullinan/Rayton-pad vir die stroop van ’n ietermagog in hegtenis geneem.

Die verdagtes, wat al drie Suid-Afrikaanse burgers is, is in ’n lokval gelei deur prof Ray Jansen, grondeienaar van Kaalfontein, naby Du Plooy Melkery. Ray, ’n professor aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, is die voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep.

Ray is ondersteun deur die Ietermagog K9, verskeie afdelings van die Suid-Afrikaanse Polisiedienste, soos Cullinan SAPD Veediefstal en Bedreigde Spesies-eenheid, Bronkhorstspruit-speurtak, Bronkhorstspruit K9, Benoni K9, Silverton K9 en die Groen Skerpioene van die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling.


Die jong ietermagog word gered
Foto: Afrika Ietermagog Werkgroep

Die kenners sê dat dié 2,6 kg Temminck ietermagog mannetjie in ’n redelik goeie toestand was, maar dat hy so jonk is dat hy eintlik in die natuur nog saam met sy ma sou gewees het. Ray sê dat dinge heeltemal anders sou uitdraai as die mannetjie ’n week later gevind is.

Dié jong mannetjie was die vierde ietermagog wat binne ’n week gered is. Verlede jaar het ons berig dat die stroop van dié diere in 2019 met 75% persent toegeneem het, wat meer is as die stroop van renosters. Hulle is meer bedreig as renosters en kan binnekort uitsterf as die stropery so aanhou.


Professor Ray Jansen is die voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep
Foto: Gareth Thomas

Mark
Daar is ’n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië, veral in Sjina, omdat hulle glo dat dit medisinale waarde het. Ray sê dat ietermagog-skubbe fyngemaal word tot ’n poeier en in verskeie kulturele medisinale en geestelike kure in Asië, veral in Sjina, gebruik word.

Ray het reeds meer as 60 verskillende kommersiële produkte, wat dié poeier bevat, in Sjina geïdentifiseer. Die produkte word op industriële vlak in reuse hoeveelhede vervaardig en verkoop.

In 2019 het 97 ton ietermagog-skubbe die Afrika-kontinent verlaat op pad na Asië. Dit is die ekwivalent van meer as 150 000 van dié diere. Teen Februarie 2020 was daar reeds 10 ton skubbe uitgevoer en toe kom die pandemie met hawens wat gesluit het en skeepvaart wat opgeskort is, wat beteken dat uitvoere heeltemal afgeplat het.

Tog, sê Ray, het dit nie beteken dat stropers ophou werk het nie. Waar daar in 2019 36 gevalle was waar stropers in ons land aangekeer is, was daar in 2020 38 gevalle en hierdie jaar reeds 12 gevalle.


Drie verdagtes is in hegtenis geneem
Foto: Afrika Ietermagog Werkgroep

Vreet
’n Ietermagog sal nie langer as twee weke ná hy gevang is, lewe nie. Ray sê dat stropers probeer om vir dié diertjies rys en brood te voer, maar hulle het nie ’n bewegende kakebeen nie en het geen tande nie. Hulle vreet net miere, maar sal nie dooie miere of kos wat hulle nie self gevind het, vreet nie.

Wanneer ’n ietermagog in ’n reddingsoperasie opgespoor word, word hy na die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild geneem en die span beoordeel sy toestand. Hy word in die waakeenheid opgeneem en sy verblyf in die hospitaal kan enige iets van ’n week tot ’n paar maande wees.

Ray vertel dat die jong mannetjie wat op 1 Junie gered is, ’n hele klomp maande in die hospitaal sal moet bly omdat hy nog ’n baba is wat aan sy ma gedrink het. “Gelukkig was hy nog in ’n goeie toestand en kon formule melk begin drink. Hy begin ook in termiete belangstel.”


Die jong ietermagog is in ’n kartondoos aangehou
Foto: Afrika Ietermagog Werkgroep

Ontslaan
Wanneer ’n ietermagog ontslaan word, word hy gewoonlik na ’n reservaat geneem wat binne die gebied val waar hy natuurlik voorkom. Ray sê dat die jong mannetjie waarskynlik in Limpopo gevang is.

’n Sogenaamde ‘sagte ontslagproses’ word aan die gang gesit wat die dier toelaat om aan sy omgewing gewoond te raak, te kyk of geskikte spesies van miere en termiete beskikbaar is en of daar geskikte skuilplek is om in te rus.

Die eerste paar dae word die ietermagog na prooi toe geneem, soos met sy tyd in die hospitaal gebeur het. Daarna bly hy buite, maar word daagliks dopgehou. Hy word vir drie weke elke dag geweeg; dan twee kere ’n week vir drie maande lank en dan een keer ’n week vir tot ’n jaar lank.

 

© 2024 Die/The Bronberger