Oor aardige name en tennisballe Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 18 June 2021 05:41
Untitled Document

Tannie Myliefie, sê Gert Mossie met daardie ver kyk, oënskynlik na niks, in sy oë soos ’n ou soms kan kyk as jy half per ongeluk in jou dink praat.

Huh? Laat Grootpiet-in-die-hoek half verontwaardig van hom hoor. Ek hoop regtig nie jy praat met of van my nie . . .

Nee man, sê Gert, hy sit maar net so en terugdink aan sy kinderjare en toe onthou hy: Daar in die bosveld-wêreld van Limburg was ’n familie Neethling. ’n Hele span broers en hulle aangetroude vrouens en span kinders het so saam met mekaar, neffens mekaar en naby mekaar geboer.

Nou was die een Neethling-broer baie duidelik baie lief vir sy persoonlike vrou. Nooit sou jy hom haar op enige ander naam as ‘My liefie’ hoor aanspreek nie. Só oordadig het hy dié naam gebruik, dat ons kinders en hy glo sekere grootmense ook, regtig geglo het dat Myliefie haar enigste en doopnaam is, sê Gert.

En dit is hoe die tannie vir ons kinders tannie Myliefie, of tannie Meliefie geword het en deur die jare gebly het.

Dit is ook in dié einste wêreld wat die winkel en poskantoor en vulstasie as eenheid aan Oompie behoort het. Dit was sy bynaam en sy noemnaam. Vir ons kinders was hy oom Oompie en sy vrou was tannie Oompie.

Toentertyd, sê Gert Mossie, was eenvoudige, alledaagse dinge baie eenvoudiger en alledaagser as wat dit deesdae is. Hy is nie seker nie, antwoord Grootpiet, of ‘alledaagser’ ’n werklike woord is nie.

Jy sien? Daar het jy nou ’n presiese voorbeeld gegee oor dit waarvan ek praat. Toentertyd sou niks meer alledaags as ‘alledaagser’ gewees het nie. Destyds het woorde en veral name eenvoudig net soveel meer sin gemaak as wat dit vandag die geval is.

Mense wat hierdie taal gepraat het, het name gehad wat in hierdie taal tuis gehoort het. Mooi en maklike name soos Piet, Koos, Jan, Karel en Griet, sê Gert.

En sou dit gebeur, en dit het dikwels, dat daar in ’n sekere omgewing of distrik meer as een, of soms meer as baie ouens was wat dieselfde naam en soms ook dieselfde van gehad het, is die verbeelding al te vindingryk ingespan. Jy sou byvoorbeeld Rooikoos, Koos-vlakpan, Blink-koos, Koos-kierie en Bangkoos almal met die van Bosman in een distrik kry.

Gelukkig lyk dit vir hom, sê Gert, of die meeste mense wat dié mooi taal praat se vanne nog nie te veel verander het nie, maar hy wonder tog hoeveel tyd en verbeelding dit geverg het om name soos Kyle Koekemoer, Xantheline (regtig) Barnard, Tatiana du Toit of Chylan Papenfus uit te dink.

Wat hom nou weer laat wonder as hy so na die tennis op TV kyk, sê Grootpiet, is of die tegnologie en ontwerperswêreld jou wragtie oor al die jare heen nie met ’n beter, meer praktiese plan vir baldra deur vrouespelers vorendag kon kom nie?

Ek praat van daai deel van tennis voor ’n vrouespeler afslaan, sê Piet. Mans steek eenvoudig die ekstra bal wat dalk gaan nodig wees in die broeksak. Só maklik is dit nie vir die stomme meisies nie.

Die ekstra bal word hier by die heup onder die broekie ingeforseer dat dit so knopstaan waar vrouens nie van nature knoppe behoort te hê nie. En dit moet verskriklik ongemaklik en seer wees, want dit gee telkens ’n onaardse geskreeu af as daai meisie die eerste bal afslaan met die ander een nog waar sy hom ingedruk het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger