Tierpoortse ruitertjie woeker met haar talente Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 18 June 2021 05:36
Untitled Document

’n Talentvolle jong ruiter van Tierpoort behaal groot prestasies ten spyte van talle hindernisse wat die pandemie gebring het.

Die 14-jarige Cheyanne Wilson se droom was nog altyd om met haar perd in skoue mee te ding. Toe die pandemie verlede jaar uitbreek, het haar pa sy werk verloor en kon haar ouers nie die inskrywingsfooie vir skoue betaal nie.


Cheyanne en Gobi by die Sanesa Gauteng Tshwane skou van 15 tot 16 Mei
Foto: Denford Studios

Boonop het haar perd, Gobi, perdesiekte gekry. Nadine Bennett van stalle op Tierpoort, vertel dat Gobi dit baie amper nie gemaak het nie, maar dat Cheyanne se toewyding hom deurgetrek het.

Cheyanne ry nou maar slegs twee jaar perd en durf reeds een meter hoë spronge aan. Danksy haar oom se borgskap, is vanjaar die eerste keer wat sy in die skoleliga van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Ruiterkunsskole (Sanesa) meeding. Sy kon aan die kwalifiserende Sanesa Gauteng Tshwane skoue van 17 tot 18 April en 15 tot 16 Mei deelneem. Dié skoue was vlak een (70 cm).


Cheyanne Wilson van Tierpoort en haar perd, Gobi
Foto: Verskaf

Nadine sê dat volgens die punte wat Cheyanne op dié Sanesa-skoue verdien het, dit lyk of sy in Augustus dalk as deel van die Gauteng-Noord span sal kan deelneem en moontlik kan deurdring na die nasionale rondtes.


Cheyanne en Gobi by die Sanesa Gauteng Tshwane skou van 17 tot 18 April
Foto: Denford Studios

Cheyanne, ’n tuisskoler, werk deur die week by Nadine se stalle. Sy doen vier lesse ’n week op Gobi en ry dan ook die ander perde by die stalle. Sy het onlangs begin halters maak om te verkoop, sodat sy volgende jaar haar eie skoue kan betaal en die regte toerusting vir deelname kan koop.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger