Verlore ‘Kruger Miljoene’ in Switserse bankkluis gevind Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 23 April 2021 06:33
Untitled Document

Angie Kleijn

Wat oorgebly het van die sogenaamde ‘Kruger Miljoene’ is onlangs in ’n 120-jaar-oue geldsak, wat lees: “De Nationale Bank der Zuid-Afrikaansche Republiek Beperkt”, in ’n Switserse bankkluis gevind. Die egtheid van dié goue munte is onafhanklik gestaaf en gegradeer deur die Numismatic Guarantee Corporation in Florida, VSA.

Elke muntstuk is indiwidueel gegradeer en gesertifiseer, wat hulle egtheid, wetlike tenderstatus (1893 – 1900) en die korrekte gewig van elke muntstuk bevestig, sê Honey Mamabolo, besturende direkteur van die SA Munt, wat dié goue ponde nou verkoop.


Jan Smuts in die Engelse Oorlog
Foto: Kraal Uitgewers

Dié Kruger-ponde, wat die internasionale gemeenskap die “lost hoard” gedoop het, was glo in die vroeë 1900’s in Nederland en is net voor die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) vir veiligheid na ’n Switserse bankkluis gestuur, waar dit vir dekades gelê het voor dit onlangs op ’n veiling verkoop is en in besit van die SA Munt beland het.

Vir langer as ’n eeu is daar bespiegel oor waar die verlore ‘Kruger Miljoene’ is. Geskiedskrywers dui aan dat Lord Alfred Milner met die besetting van Pretoria op 5 Junie 1900 gevind het dat goud, goud-ponde en halfgemunte ponde uit die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se Munt en De Nationale Bank (Staatsbank) verwyder is.


Die presidensiële trein het die besending Kruger-ponde by Machadodorp gekry
Foto: Randcoin

Smuts
Die ZAR-regering het Pretoria enkele dae tevore verlaat en die onttrekking van alle regeringsfondse is aan die staatsprokureur van die ZAR, generaal Jan Smuts, oorgelaat. Volgens Rand Coin het Jan Smuts letterlik vir dae gesukkel om die direkteur van die Staatsbank te oortuig om geld en goudreserwes ter waarde van ongeveer £500 000, wat aan die republiek behoort het, te oorhandig.

Volgens Rand Coin het die munt se boekhouer, Eduard Meyer, wat van Switserse oorsprong was, ’n belangrike rol in die verwydering van die goud by die munt gespeel. Op Saterdag 2 Junie, net voor die munt vir die naweek sou sluit, het Eduard besef dat geen voorbereidings getref is om die goud en geld na ’n veilige plek te neem voor die Britte in Pretoria aankom nie.


’n Replika van die ou sak waarin die verlore skat gevind is
Foto: SA Munt

Hy het die muntmeester, ’n mnr Perrin, gevra hoekom geen plan gemaak is nie en Perrin het gesê dat hy geen instruksies ontvang het nie en dat hulle maar net sal moet aanpas by die nuwe bewind.

Daardie Sondag 3 Junie kon Pretorianers die Britte se kanonvuur hoor. Teen Maandagoggend 4 Junie was daar skermutselings by Sesmylspruit en die Britse besetting van Pretoria was op hande.


“The lost hoard” se verpakking
Foto: SA Munt

Eduard het dié Maandagoggend rondom 7 vm saam met Perrin en ’n werknemer, P Callaghan, by die werk opgedaag. Perrin het bevel gegee dat die oonde aangesteek moet word en die goud uitgeweeg moet word asof dit net nog ’n dag by die munt is.

Eduard het gewag tot Perrin huis toe gaan vir ontbyt en het toe vir die mense wat die gietwerk doen, gevra om nie die goud in die oonde te sit nie, maar vir Jan Smuts se instruksies te wag.


Paul Kruger se laaste blik op Afrika toe hy Delagoabaai in Oktober 1900 verlaat het. Regs van hom is Manie Bredell, sy private sekretaris
Bron: Meintjes, Johannes (1974). President Paul Kruger: A Biography

Jan Smuts het daardie selfde oggend ’n lasbrief vir inhegtenisname (vermoedelik teen Perrin) uitgereik en uiteindelik is die gemunte ponde, naakte ponde, ongemunte goud en muntplaatjies oorhandig sowel as ’n verdere £25 000 wat die bank vir nodige oorlog-voorraad gehou het.

Andries Breytenbach skryf in sy boek, ‘Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog’: “Al die geld en goud is onder polisietoesig op ’n spesiale trein geplaas en die middag van 4 Junie onder toesig van die munt se boekhouer, Eduard Meyer, en ’n betroubare wag na die nuwe regeringsetel versend. Dit was naelskraap, want teen daardie tyd het die Britse bomme reeds op die stasie en spoorlyn te Sunnyside begin val.”


Paul Kruger aan boord die Gelderland, ‘Le Petit Journal’
Bron: newyorkdaybyday.blogspot.com

In ‘Stories rondom verlore Kruger-miljoene wil nie gaan lê nie’ het ons in Maart 2015 vertel dat dié geld en goud met die trein na die laeveld in die rigting van Paul Kruger se trein, bekend as die regering-op-wiele, gestuur is.

Gustav Preller, wat in 1900 ’n klerk in die Departement van Myne was, het geskryf hoe hy opdrag ontvang het om ’n wa op te spoor en hoe dié wa in ’n smal gang tussen die Nasionale Bank-gebou, die Paleis van Justisie en die Munt getrek is.

Vragte goud is gelaai terwyl Jan Smuts toesig gehou het. Gustav moes die goud na die ouditeur-generaal by Pretoria-stasie neem. “Ek het op die goud gestaan net agter die drywer,” skryf hy.


Die trein met die ‘Kruger Miljoene’ het deur dié tonnel by Waterval Boven gestoom
Foto: Randcoin

By die stasie is die goud op die presidensiële trein gelaai. Die trein het Machadodorp in die namiddag bereik, waar Eduard Meyer gehelp het met uitbetalings in goud. Skuldeisers wat oorlogsvoorraad aan die regering voorsien het, het glo op die trein toegesak.

Die goud is met Eduard se vertrek van Machadodorp op 17 Julie 1900 onder toesig van die hoofklerk in die kantoor van die ouditeur-generaal, kommandant Meindert Noome, geplaas. Dié goud het Machadodorp in Augustus verlaat en skuldeisers het glo weer op die trein toegesak toe hulle op Barberton aankom.

Volgens prof Fransjohan Pretorius aan die departement historiese en erfenisstudies van die Universiteit van Pretoria, het Britse soldate die spoor daarná versper en die goud is in ossewaens oorgelaai en gebruik om die oorlog te finansier. Hy sê dat generaal Louis Botha in April 1901 laat weet het dat die goud op is.


Paul Kruger word in Parys verwelkom – ‘gare de Lyon’
Bron: Peter Hammond, Missionary at
Frontline Fellowship


Paul Kruger by ‘Les Hotes de la France’
Bron: Peter Hammond, Missionary at
Frontline Fellowship

‘Le Petit Parisien’ wys Paul Kruger in Frankryk
Bron: Peter Hammond, Missionary at
Frontline Fellowship

Gerugte
Tog, volgens ’n Duitse uittreksel op All Explore.com, is 62 kiste goud op 31 Augustus in Delagoabaai (Lourenco Marques), Portugees-Oos-Afrika aan ’n Duitse firma, Wilken en Ackerman, oorhandig. Dié firma het die ZAR-regering glo genoeg krediet vir die goud-waarde gegee sodat Meindert Noome voorrade kon aankoop.

Hy het glo 44 000 sakke meelblom gekoop, stoomskepe gehuur, geïnterneerde boere in Portugal en Portugees-Oos-Afrika versorg en het geld na Europa gestuur om vir Boere-vlugtelinge te sorg. Meindert het ontken dat goud ooit na die laeveld gestuur is.


Die amptelike opening van De Nationale Bank der Zuid-Afrikaansche Republiek deur
Paul Kruger in 1891
Foto: SA Coin

Gerugte het egter gelui dat die goud van die Pretoria-stasie eers Middelburg toe is en daarvandaan na Belfast, Machadodorp, Waterval Boven en Nelspruit. Voor die trein se vertrek uit Nelspruit is die goud glo op drie geheime plekke begrawe.

Waens vol goud is glo na ’n mynkamp, genaamd Spitzkop, tussen Belfast en Pelgrimsrus geneem en daar begrawe. Nog ’n wa het glo deur Bremersdorp en die Komatirivier na Swaziland gery na ’n plek tussen Witte Pelosse en Swart Pelosse, waar generaal Lucas Meyer gewys het waar die goud begrawe moes word.


Op 9 Desember 1900 het Paul Kruger die menigtes vanaf die balkon van Hotel des Indes gegroet
Bron: dbnl.org

Gerugte lui dat nog ’n wa na Devil’s Knuckles naby Pelgrimsrus toe is waar die goud begrawe is. ’n Klein bietjie goud het glo oorgebly, wat deur die Boeremagte by Lydenburg opgepas is. Toe hulle hoor dat die Britte op pad was, het hulle met die goud na Roos Senekal vertrek.

Stories loop ook dat 30 kiste goud in Julie 1900 met die Duitse stoomskip Bundersrath van Delagoabaai na Hamburg verskeep is. ’n Verdere 100 kiste goud is glo in September 1900 op ’n ander Duitse skip gelaai.

Volgens legendes het ’n groot deel van die ZAR-staatskat (kiste goud en rou diamante), wat reeds in 1898 by Delagoabaai op drie skepe gelaai is, nooit hulle bestemmings bereik nie. Die eerste skip het glo in ’n stormwind gesink. Die tweede een se manskappe het die kaptein vermoor en verdwyn, en die derde skip, Dorothea, het by Kaap St Lucia in ’n storm middeldeur gebreek en gesink. Blykbaar het die matrose in reddingsbote weggekom.


‘L’Impartial’ beeld Paul Kruger se aankoms uit
Bron: Peter Hammond, Missionary at Frontline Fellowship
.
‘Le Petit Parisien’ wys hoe Paul Kruger ontmoet word
Bron: Peter Hammond, Missionary at Frontline Fellowship
.


‘Le Petit Journal’ wys hoe Koningin Wilhelmina van Nederland Paul Kruger ontmoet
Bron: Peter Hammond, Missionary at Frontline Fellowship

Nederland
Eli Levine, skrywer van ‘The Coinage and Counterfeits of the Zuid Afrikaansche Republiek’, sê egter dat president Paul Kruger die meeste van die goud saam met hom op die skip Gelderland, verskaf deur koningin Wilhelmina van Nederland, geneem het.

Fransjohan skryf dat president Paul Kruger op 28 Augustus 1900 by Waterval-Onder deur die uitvoerende rade van albei Boereregerings afgevaardig is om die Boeresaak in Europa te bevorder. Hy het op 19 Oktober 1900 by Delagoabaai aan boord gegaan en het op 22 November in Marseille, Frankryk aangekom. Sy verblyf in Europa is deur die ZAR se gesantskap in Brussel betaal.

Fransjohan sê dat Paul Kruger op 20 Desember 1900 ’n byeenkoms tot sy eer in die Nieuwe Kerk op die Dam in Amsterdam bygewoon het. Hy het daarna in die Hotel des Indes in Den Haag oorgebly en is in Januarie 1901 na die Hotel Pays Bas in Utrecht. In April 1901 het hy in ’n woning, Casa Cara, in Hilversum gebly en in Desember 1901 is hy na die Villa Oranjelust in Utrecht.


Villa des Pierriers nommer 17 in Clarens aan die meer van Genève, Switserland waar
die president oorlede is
Foto: Suid-Afrikaanse Panorama mid 1970's-1980

Sy gesondheid het begin agteruitgaan en hy het in Oktober 1902 na Mentone aan die Franse Riviera verhuis. In Mei 1903 het hy na Nederland teruggekeer en by Villa Djemnah in Hilversum gewoon.

Hy het in Oktober 1903 na Mentone teruggekeer en het vandaar op 24 Mei 1904 na sy laaste woning getrek – Villa des Pierriers nommer 17 in Clarens aan die meer van Genève, Switserland. Dit is die huis waar hy op 14 Julie 1904 in die ouderdom van 78 jaar oorlede is.

Die president se lyk is gebalsem en in ’n driedubbele kis (van sederhout, lood en eikehout) geplaas om via Nederland met die stoomskip, die SS Batavier IV, Suid-Afrika toe te reis. Sy stoflike oorskot het in die Suzannasaal in Vermeulenstraat, Pretoria in staatsie gelê tot hy op 16 Desember in die Heldeakker langs sy vrou, Gezina, ter ruste gelê is.

Die goue ponde, wat in Europa agtergebly het, is vandag in twee soorte beperkte uitgawe stelle te koop van die SA Munt se winkel, Coin World. Afhangende van die muntstuk se toestand en jaar, strek die waarde van ’n eendisselboom-ontwerp vanaf R14 500 tot R250 000.


’n Mej Potgieter en Jacqueline van der Wal lê op 10 Oktober 1958 ’n krans by die Paul Kruger-gedenkteken in Utrecht, Nederland
Bron: historie.hsmarnix.nl

Dit is nie bekend of daar van die 1892 ponde beskikbaar is nie. Hulle het beroemdheid verwerf omdat hulle nie die korrekte eendisselboom-ontwerp van die ossewa gehad nie, maar ’n tweedisselboomwa, soos die Duitsers gebruik het.

Deel van die verpakking van die munte is ’n houtkissie en replika van die oorspronklike geldsak waarin hulle vir meer as ’n eeu verborge gebly het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger