Grafrowers slaan toe op massagraf by monument Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 23 April 2021 06:32
Untitled Document

Wie sal nou die gebeentes uit ’n massagraf by ‘n gedenkteken van die Eerste Vryheidsoorlog wil steel? Dit is die vraag op almal se lippe ná ’n lid van die FAK-Kultuurnetwerk met skok op ’n enorme gat by die monument ter nagedagtenis aan die Slag van Bronkhorstspruit afgekom het.

Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerk, het oor die langnaweek in Maart die twee monumente wat ter nagedagtenis van dié slag opgerig is, besoek. Hulle is aan weerskante van die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25) naby Bronkhorstspruit.

Barry sê dat dit ’n groot skok was om te sien dat ’n gat aan die voorkant van een van die monumente gegrawe is. Daar is ’n massagraf van Britse soldate: Die oorskot van dié soldate is almal in 1961 van verskeie grafte op die slagveld by dié enkele massagraf herbegrawe.
’n Saak van grafskending en vandalisering van ’n erfenisterrein is by die polisie aanhangig gemaak.


Die enorme gat by die monument langs die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25)
Foto: FAK

Slag
Die Slag van Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880 was die eerste geveg in die Eerste Vryheidsoorlog en was binne 15 minute verby. Die 94e regiment van die Britse magte onder bevel van luitenant-kolonel Philip R Anstruther was onderweg van Lydenburg om hulle by die Britse magte in Pretoria aan te sluit.

Die Boeremag onder bevel van kommandant Frans Joubert se opdrag was om dié aantog te stuit. Die twee magte het naby Bronkhorstspruit ontmoet. Frans Joubert het ’n handgeskrewe versoek na Anstruther gestuur om om te draai. Hy het glo geweier.

Verskillende bronne gee verskillende getalle van die hoeveelheid mense wat by dié slag betrokke was. Volgens GR Duxbury se artikel in die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging se joernaal (vol 5, no 2, Desember 1980) was daar 247 Britte van alle range, uitsluitend drie vroue (sersant-majoor Fox se vrou; die orkesleier, B Smith, se weduwee; en sersant Maistre se vrou) en drie kinders. Die Britte se aantog het uit 34 ossewaens, insluitende waterkarre, bestaan.

Sekere bronne sê dat die slag so gou verby was omdat niksvermoedende Britte in ’n hinderlaag gelei is. Anstruther het egter van die gevaar geweet. Kolonel Bellairs het op 15 Desember reeds ’n geskrewe waarskuwing met ’n boodskapper na hom gestuur. Dié brief is op 17 Desember afgelewer toe Anstruther op Middelburg was en ’n antwoord is met die boodskapper terug gestuur.


Lyngraveerwerk van die oorspronklike grafte op die slagveld, c. 1901
Bron: Iconographic Collections, Wikimedia

Stilstand
Op 20 Desember rondom die middel van die dag het Anstruther, met kondukteur Egerton langs hom, omtrent 50 meter voor die orkes gery. Hulle was sowat 400 meter agter twee verkenners, wat ’n groep Boeremagte in die verte uitgewys het.

Die waens en troepe was ongeveer 1,5 km vanaf die spruit, toe die orkes skielik ophou speel het. ’n Groep van omtrent 150 Boere het sowat 500 meter van hulle af gestaan.

Anstruther het bevel gegee dat die kolom tot stilstand moet kom. ’n Boodskapper van die Boeremagte wat kon Engels praat, ’n ene De Beer, het met ’n brief nader gekom en gesê dat Anstruther twee minute het om te antwoord. Anstruther het aangedui dat hy beplan om voort te gaan met sy tog na Pretoria en die skietery het begin.

Weereens verskil bronne geweldig, maar GR Duxbury skryf dat 78 Britte dood is en 157 gewond is, behalwe vir dié wat deur die Boere gevange geneem is. Anstruther is in sy bene gewond en is op
26 Desember dood ná sy een been afgesit is. Een Boer (Kieser) is in die geveg dood, een is aan sy wonde dood (Coetzee) en vier ander is gewond.

Twee aparte monumente is aan weerskante van die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad opgerig: Die Boere s’n aan die westekant en die Britte aan die oostekant.

Die FAK-Kultuurnetwerk vra mense om hulle oë en ore te wees en hulle te laat weet waar bewaring nodig is. Jy kan foto’s van historiese gedenkwaardighede, grafte of grafterreine met hulle GPS-koördinate of pin-ligging na 081-586-7048 stuur.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger