Omstrede museum op Bronberg gebou Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 23 April 2021 06:32
Untitled Document

Dit gons behoorlik by Bronberg Park oor die museum wat agter dié kompleks teen die Bronberg in ’n kritieke biodiversiteitsarea gebou word. Dié noordelike hange van die berg se sanderige grond is waar die krities bedreigde Juliana Gouemol voorkom.

At Schoeman sê hy het gemerk dat daar ’n kennisgewing by Denneboomweg 600, by Bronberg Park se ingang, is om goedkeuring te kry vir die verwydering van plante op die Bronberg.

“Dit is waar die aaklige stellasie reeds opgerig is,” sê hy. Dit word glo vir die oprigting van ’n museum gedoen, maar hy het sy bedenkinge, sê At.


Die ingang na Bronberg Park met die Bronberg in die agtergrond

Volgens die kennisgewing het mense tot 12 April tyd gehad om as belanghebbende partye te registreer in die projek se openbare deelname proses, wat deur Leap Enviro gereël word. Gwen Theron van Leap het aan Die Bronberger verduidelik dat die aansoek is om die bestaande geboue en grondgebruike wetlik te kry.

Aansoek word gedoen vir ’n museum met aanvullende dienste op die restant van gedeelte 40 van die plaas Willows 340 JR, Denneboomweg, Die Wilgers. Die grootte van dié perseel naby aan Life Wilgers Hospitaal is 4,9 hektaar.

Die projek aansoeker, Verdor Management Solutions (Edms) Bpk, het reeds met die konstruksie van die museum, en dit wat lyk na konferensiefasiliteite en ’n parkeergrond, begin. Die doel is glo om ’n groot versameling antieke toerusting, insluitende militêre voertuie, daar uit te stal.


Die pers blok dui die perseel van dié ontwikkeling teen die Bronberg aan. Wilgers Hospitaal is links daarvan en die grootpad is Lynnwoodweg

Kennisgewing is gegee in terme van Wetsartikel 24(G) saam met Wetsartikel 24(F) van die Nasionale Omgewingsbestuurswet dat die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO) ’n aansoek oorweeg vir regstelling deur Rua Construction and Projects vir die onwettige aanvang van gelyste aktiwiteite in terme van omgewingsimpakassessering regulasies.

Die gelyste aktiwiteite is die klaring van ’n gebied van een hektaar of meer van inheemse plantegroei en ook die opruiming van ’n gebied van 300 vierkante meter inheemse plantegroei wat binne ’n kritieke biodiversiteitsarea, wat in biostreeksplanne geïdentifiseer is, val.

Leap het Enviro-Insight cc aangestel om ’n ondersoek oor die krities bedreigde Juliana Gouemol op die perseel te doen. Die studiegebied val in ’n area wat volgens GDLLO se bewaringsplan geskikte habitat vir dié mol is en waar bevestigde rekords van gouemol-bedrywighede opgeteken is.


A dui die struktuur met parkeergrond aan en B die woonhuis met tuine

Enviro-Insight se studie toon dat geskikte habitat deur konstruksie en hoë vlakke van menslike aktiwiteite vernietig is. Daar is ’n groot waarskynlikheid dat die gouemolle nog op die oorblywende onbewerkte areas teenwoordig is, maar die studie toon dat die konstruksieproses waarskynlik habitat-fragmentering veroorsaak het, wat die beweging van die spesie beïnvloed.

Enviro-Insight se studie lui dat geen verdere uitbreiding op die eiendom toegelaat moet word nie.
Vir meer inligting bel Leap se Nkhensani Masondo by 012-344-3582 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger