Johanna laat die Goliat van Gat se rekord spat Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 23 April 2021 06:24
Untitled Document

Johanna is die naam van die 790 kg wenpampoen wat die rekords by die 17de Goliat van Gat pampoenkompetisie laat spat het. Sy is die grootste pampoen wat sedert die begin van dié kompetisie ingeskryf is.

Henri Combrink, organiseerder van die kompetisie en voorsitter van Cullinan Boere-Unie, sê dat Johanna amper dubbeld so swaar as verlede jaar se wenpampoen is en net 70 kg ligter as die Suid-Afrikaanse rekord vir die swaarste pampoen.


Wykus Lamprecht se wenpampoen is die 790 kg Johanna. Van links na regs: Wykus Lamprecht, Lisinda Lamprecht, Lizzie Lamprecht en Ivan Tennant
Foto: Noxolo Sibiya

Dié kompetisie is op 20 Maart by die TLU SA Boeremark in Silverton gehou. Dit word elke jaar deur TLU SA se Cullinan Boere-unie gereël en dit is waar die fees se naam vandaan kom – Cullinan is bekend vir die groot gat waar die bekendste diamant in die wêreld uitgehaal is.

Peet Joubert het tweede plek in die kompetisie behaal met ’n 532 kg pampoen, Lizzie Lamprecht was derde met ’n 399 kg pampoen en Sonja Joubert vierde met ’n 375 kg pampoen. Henri sê dat die vier wenpampoene omtrent 16 000 mense kon voed.

’n Totaal van 3 234 kilogram se pampoene is ingeskryf en het ná die kompetisie aan welsynsorganisasies gegaan waar dit verwerk is en aan behoeftige mense uitgedeel is.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger