Hele trop muishonde vat die langpad onder masjienkap Print E-mail
News - Artikels
Friday, 23 April 2021 06:16
Untitled Document

’n Groep van 32 gestreepte muishonde het oor die Paasnaweek ongesiens 170 km in ’n BMW se masjienkap vanaf Mabula-wildreservaat naby Bela-Bela tot by die Silver Lakes-omgewing saamgery.

André Roux van Six Fountains residensiële landgoed sê dat hy verras was toe dié groep verstekelinge by sy BMW X5 se onderstel uitspring. Hy het so 6 uur die oggend by Mabula weggery en toe hy by die huis uit sy motor klim, het hy aanvanklik drie muishonde gesien. Hy het sy selfoon in sy motor vergeet en toe hy dit gaan haal, het hy omtrent 30 van die muishonde in sy tuin sien rondhardloop.

André het vir Brendan Murray van die Owl Rescue Centre, ’n bewaringsorganisasie op Hartbeespoort, gebel en Brendan het dieselfde dag amper al die muishonde gevang en na Mabula teruggeneem.
“Nie een van die diertjies het seergekry of selfs brandplekke opgedoen nie,” sê Brendan.


’n Deel van die groepie gestreepte muishonde
Foto: Verskaf

Teen die Bronnie se saktyd was minstens een van die muishonde nog op vrye poot, maar is in die woonbuurt gewaar en vanghokke is neergesit. Die plan is om hom met sy groep op Mabula te herenig.

Brendan sê die muishonde moes die Vrydagmiddag toe die son sak in André se motor geklim het en hulle het waarskynlik nog geslaap toe André voor sonsopkoms in die pad geval het.

Dié nuuskierige sosiale diere bly in groepe wat volgens ’n matriargale stelsel werk en siekes, verswakte oues en onbeholpe jonges beskerm. As die groep in gevaar is, sal hulle vir ’n vinnige ontsnappingsroete soek. As dit nie moontlik is nie, vorm hulle ’n groepie en druk die jongste en swakste muishonde na die middel. Kleintjies kan aan enige wyfie in die groep soog en word deur alle groeplede rondgekarwei.

Dié diertjies se stapelvoedsel is insekte, maar hulle vang ook soms rotte en muise, slange, akkedisse en voëls, en vreet eiers en wilde vrugte. Kos wat harde doppe het, soos eiers of slakke, word of in die lug op, of tussen die agterpote deur, teen ’n klip gegooi.

Prooi met giftige stekels, omhulsels of velafskeidings, soos paddas, word in die grond rondgerol tot die stekels of velafskeidings afgevryf is.

 

© 2024 Die/The Bronberger