Hoe lyk die Bronnie se deursnee leser? Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 23 April 2021 06:15
Untitled Document

Bykans tien jaar gelede het ons hier die een en die ander kwytgeraak oor die ‘profiel’ van ’n Bronnie-leser. Ons het dit gedoen na aanleiding van ’n vraag wat ons van ’n advertensie-agentskap gekry het.

Dit was belangrik vir die agentskap om te weet hoe die ‘profiel’ van Die Bronberger se tipiese leser lyk, sodat hulle aanbevelings aan hulle klante kan maak om in die Bronnie te adverteer al dan nie.

Wat die man van die agentskap eintlik wou hoor, is nie duidelik uitgespel nie. Hy wou veral vasstel wat die ‘koopkrag’ van ons lesers is en of hulle ondernemings wat in die Bronnie adverteer, ondersteun.

Ons kon hom destyds sonder skroom antwoord dat ons publikasie se ‘deursnee’ leser bo-gemiddelde koopkrag het en dat hy of sy dié koopkrag grootliks aanwend in ons verspreidings-gebied. Toe al was dit deur ongekende meelewing, duidelik dat ons lesers lojale ondersteuners van ons adverteerders was.

Die gemiddelde Bronnie-leser is volwasse en besit die huis of hoewe waar hy of sy woon en twee of meer voertuie. Ons kon ook vir die bemarkingsman vertel dat ons ‘leser’ kinders of kleinkinders het wat in een van die gebied se skole is. Dat hy/sy lief is vir: tuinmaak, kuns, uitgaan, reis, sport (veral rugby, krieket en gholf), onthaal, braaivleis en kuier en gek is oor die buitelewe en die natuur. Hy/sy het ’n liefde vir en is lojaal teenoor die omgewing en nog meer só vir sy/haar onmiddellike omgewing.

In die verloopte tien jaar het net een aspek nogal drasties verander en dit het in die laaste jaar of wat as direkte gevolg van die Covid-virus gebeur: Die Bronnie word, behalwe vir die gedrukte weergawe, ook nou elektronies versprei. Die gevolg hiervan is dat ’n baie groot groep nuwe lesers en dus potensiële ondersteuners van adverteerders, nie net binne ons verspreidingsgebied nie, maar van oor die uithoeke van die land en ja, die wêreld, Bronnie-aanhangers geword het.

Sou die advertensie-agentskap ons vandag vra ‘hoe die profiel van ons lesers lyk’, sou ons kon byvoeg dat hulle nog lojaal teenoor die Bronnie en sy adverteerders is, maar dat meer van hulle elektronies geletterd is en dat Die Bronberger meer en oor ’n wyer gebied geniet word.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger