Stappers by Hedianga-plaas in Olympus het onlangs helder oordag ’n luiperd gesien. Dit het eienaar, Gabriel Meyer Falkson, op 23 Februarie genoop om aan te kondig dat dié plaas met onmiddellike effek tot verdere kennisgewing gesluit word.
Gabriel sê dat twee stappers gesien het hoe die luiperd die wandelpad waarop hulle geloop het, oorsteek. Hedianga is op plot 85, Achillesweg en is ’n plek wat draf- en staproetes op die Bronbergrif bied aan diegene wat met hulle honde wil gaan loop of draf of wat net die natuur wil geniet of voëls wil kyk.
Ingrid Lübbe het op
7 Februarie gehoor dat daar ’n luiperd op Hedianga is |
Chavonne Siebritz se vyf-jarige nefie het glo ook ’n luiperd by Hedianga gesien |
Gabriel Falkson van Hedianga
.
. |
Gabriel sê dat dit ’n nuwe, leersame ondervinding vir hulle is en dat hulle in verbinding is met die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling sowel as natuurbewaarders. Hy sê dat hulle advies gekry het dat die luiperd dalk self die plek sal verlaat. Alternatiewelik hoop hulle om toestemming te kry om die luiperd te laat vang en elders te laat vrylaat.
Ná die aankondiging het Chavonne Siebritz laat weet dat, toe hulle by Hedianga was, haar vyf-jarige nefie gesê het hy het ’n luiperd gesien. Niemand het hom natuurlik geglo nie.
Ingrid Lübbe sê dat hulle vroeg op 7 Februarie daar gaan draf het en op ’n vrou afgekom het wat na haar hond op soek was. Dié vrou het gesê sy wil nie paniek saai nie, maar dat sy nou-net ’n luiperd gesien het. Ingrid sê dat hulle die vrou geglo het, omdat hulle geweet het van ’n luiperd se besoeke aan die nabygeleë Mooikloof-landgoed.
Hedianga se staproetes bo-op die Bronbergrif in Olympus
Foto’s: Facebook
Mooikloof: Die wêreld het in Augustus 2020 behoorlik gegons oor die beeldmateriaal wat deur sekuriteitskameras vasgevang is van ’n luiperd wat Mooikloof-landgoed aan Garstfonteinweg-verlenging besoek. Die Mooikloof Huiseienaarsvereniging het bevestig dat hulle die Gautengse nasionale bewaringsinstansie laat weet het en dat beamptes die landgoed besoek het om die saak te ondersoek.
Boschkop: In September 2020 het ons berig dat ’n kort video, wat op die Mooiplaats-Zwavelpoort-Tierpoort gemeenskapsveiligheidsgroep geplaas is, wys hoe ’n uitgegroeide luiperd teen ’n tweespoor grondpaadjie af loop. Mark Bekwith het gesê dat dié video op sy vriend se Boschkop-plot geneem is.
Kiepersolkamp: In Maart 2020 het ons berig dat André en Engela Hennop van Kiepersolkamp, wat bo-oor die Bronbergrif op Zwavelpoort loop, waarnemingskameras laat oprig het omdat daar van hulle wild begin ‘verdwyn’ het. Dié kameras het bykans elke nag luiperds se besoeke gewys.
Nkwe: Vroeër in 2020 het die mense van Nkwe-woonwapark en -piekniekoord op Tierpoort laat weet dat hulle weer ’n luiperd daar gesien het.
Bapsfontein: In September 2017 het dr Pieter Engelbrecht, ’n veearts van die Bapsfontein Dierehospitaal en ster van die televisiereeks ‘Dieredokter’, ’n luiperd in die Bapsfontein-omgewing agterna gesit, is deur hom stormgeloop en kon hom op die ou einde verdoof.
Mooiplaats: In November 2010 het ons berig dat ’n luiperd op Anton Bester se Mooiplaats-plot tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier gevang is. Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring se hulp is ingeroep en hy en ’n veearts van die Pretoriase Dieretuin het die luiperd, wat later Ingwe gedoop is, verdoof. Ingwe het ’n tandoperasie by Onderstepoort ondergaan voor hy in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat is.
Zwavelpoort: In Januarie 2010 het ons berig dat ’n luiperd hom in die Bronberg tuisgemaak het en reeds minstens een troetelhond, Danie van Hengel van Zwavelpoort se Jack Russel, verslind het.
Tierpoort: In September 2009 het ons berig dat Richard Wade, argeoloog-sterrekundige van die Nkwe-rif Sterrewag, een aand, toe hy om die draai by die Nkwe uitdraaipad kom, amper in ’n luiperd vasgery het. |