Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Die voorneme was om te loop inloer by een van die paar nuwe (of ouer oorgedoende) kuierplekke in Tierpoort en Bashewa se kontrei. Maar dit is vroeg op ’n mooi Sondagmore en ons besluit om eers elmboë te gaan stamp met vriende op Cullinan, wat ons lanklaas gesien het.
Dit kuier lekker en wil-wil neig na tyd om die elmboë te begin lig, toe ’n vriend terloops vra of ons al die nuwe plek met die naam ‘Gem on Oak’ hier bo in die dorpie se hoof kuierstraat besoek het.
Só gebeur dit dan dat ek tog ’n koue bruisdrankie se doppie laat klink terwyl Metgesel nog ’n koffie gebruik en ons die kuiertjie rek. Later loop sit ons aan by die nuwe Gem on Oak ’n ent straat op.
Sondagkos wat ’n bord sou kon laat kreun
Nuut is die plek wel in naam, eienaars, spyskaart en personeel, maar die vorige eienaars het die ou huisie oor ’n lang tydperk met sorg, moeite en baie frustrasie met burokratiese rompslomp in ’n spoggerige kuierplek met bakkery en delikatessen omtoor. Hulle het dit toe Le Pate a Choux genoem.
Die nuwe kuierplek in die ou huis het ’n redelike lywige spyskaart. Maar vandag is dit Sondag by die nuwe Gem on Oak en op Sondae bedien hulle ook ’n selfhelp-buffet geskoei op die tradisionele Sondagmaal, soos baie dit in ma en ouma se huis leer ken het. Ons besluit soos een man (of een vrou dan) om die Sondagmaal in te werk. Dit kos R95.
Ons loop sit aan onder ’n volkoeltesambreel in die voortuin van die plek. Jy kan ook op die dek of binnevertrek plaasneem. Binne huisves ook die bakkery en die gebak en ander versnaperinge.
Gaste kuier in die voortuin
Oorkant my is die baie ou klipgebou wat van toeka af ’n handelsbank huisves en waarvan die fraaie geweltjie (vandag teen die bloue hemel afgeëts) in die onlangse verlede twee keer deur weerlig getref is.
Ons bestel nog iets teen die dors en bekyk die spyskaart vlugtig. ’n Hele aantal ontbyt-keuses, soos ’n groot Engelse ontbyt met al die verwagte verdagtes en ’n ‘hash brown’ kos R80 en pap ‘and’ kaiings kos R55.
‘Wraps’ en geroosterde broodjies se pryse wissel tussen R50 en R95 vir die ‘Dagwood’ – Nolsburger. Drie soorte deelmandjies (baskets) kos elk R95. Jy kan kies of jy die worsmandjie, die vleismandjie, of die hoendermandjie wil hê.
’n Basiese burger kos R55 en dan kan jy ekstra frikkadel (R20), spek (R15), en/of eier, kaas of pynappel teen net R5 byvoeg.
My uitsig op die geskiedkundige ou bankgeboutjie
Kruisskyf (300 g) met slaai, skyfies of pap of ’n T-been van 500 g kos R95. ’n Volle kilogram se T-been jaag jou R150 uit die sak, ’n lendeskyf (fillet) van 200 g R95 en ’n varktjop van 200 g R75.
Nagereg sluit malvapoeding (R35) en wafel met roomys (R25) in. Slaai is van die Griekse soort (R55) of hoender en spek teen R65. Dit dan net vlugtig die spyskaart. Die dranklisensie is “vol” en die wyn- en bier-keuses maak voorsiening vir uiteenlopende voorkeure.
Die Sondagkos is op ’n langtafel in daai vierkantige opskepbakke staan gemaak – vir self help. Die sjef op die toneel is Thinus en Thinus is gaaf genoeg om te vra of hy sommer vir ons die nodige op kan skep. ‘Dankie en asseblief; ons sit dan juis nou so luilekker, lekker en sit.’
Die dek van die plek agter die voortuin met die mooi ou huis wat die bakkery en binnewerke huisves
Borde kan nie (soos tafels) kreun nie, maar as hulle kon sou dié wat Thinus nader bring, dit ten hemele gedoen het. Tradisionele bobotie, oondgebruinde hoender en aartappels (soos jou ouma s’n), blom- en spruitkool onder ’n witsous, witrys met hoendersous, soetpatats. Ek vergeet dalk iets. Verskoon tog.
Die borde is vir ’n baie honger mens gelaai en ons geniet werklik ’n smaaklike Sondagmiddagmaal. As dit enigsins moontlik was sou ek graag ook die malvapoeding wou beproef het, maar soms is genoeg, te veel.
Ons neem ons voor om later die bakkery se produkte en ander lekkernye van nader te leer ken, maar as dit ons bestem is, is die volgende kuierbesoek aan Tierpoort se wêreld, besluit ons.
Jy kan die mense van Gem on Oak skakel vir meer inligting: 012-881-3992 of 082-737-3329. |