Seniors beleef ’n stil en eensame jaar Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 19 February 2021 17:33
Untitled Document

Die Seniors van Tierpoort het ’n stil en eensame jaar beleef, soos meeste landsburgers. Grendeltyd is aangekondig knap ná hulle byeenkoms op 4 Maart verlede jaar, waar hulle buikdanslesse en Marokkaanse disse by Shokran geniet het.

Daarná is geen samekomste gereël nie, ter beskerming van die senior burgers se gesondheid. Kontak is wel behou deur bemoedigende elektroniese boodskappies en om lief en leed met mekaar te deel.

Die groep het drie lede in 2020 verloor: Dick King, Mara Janse van Rensburg en Vicki Robyn.


Die Tierpoort Seniors se laaste ‘normale’ byeenkoms voor grendeltyd in Maart verlede jaar

Met die afname van die inperkingstatus in Augustus, het die mense van Leribisi Lodge hulle plek beskikbaar gestel om die Tierpoort Seniors vir ’n week lank op ’n rotasie basis te onthaal. Vir sosiale afstand-hou is dit beperk tot ’n maksimum van 20 gaste per dag. Dié oefening is weer in Oktober by Leribisi herhaal.

Groot was die blydskap toe die seniors mekaar almal weer saam kon ontmoet vir die jaarlikse Kersfeesbyeenkoms op 2 Desember. Lavandou in Grahamweg was perfek vir dié nostalgiese samekoms, met die bekende tenoor Christiaan Snyman wat die 80 gaste met sy besonderse sang vermaak het.

Marietjie Alers, een van die organiseerders, sê: “Ons dankbaarheid is egter groot dat die meeste van die Tierpoort Senior-groep en die komitee steeds goeie gesondheid beleef. Ons hoop vir 2021 is dat ons sal groei om weer van krag tot krag te gaan.”

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger