Wally sien hoe tannie Duifie en oom Tas vermoor word Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 19 February 2021 17:25
Untitled Document

Die 84-jarige Johanna (tannie Duifie) Oosthuizen en haar 87-jarige lewensmaat, Adam (oom Tas) Hefer is op 5 Februarie wreed op die Cilvale-kleinhoewes in die Welbekend-omgewing vermoor.

Hulle liggame is onherkenbaar verbrand en moes met DNS-tegnologie uitgeken word. Volgens Llewellyn Hemmens, AfriForum se Noord-streek veiligheidskoördineerder, is tannie Duifie en oom Tas omstreeks 8 nm by die huis ingewag, vasgebind en buite langs die swembad erg aangerand en gemartel. ’n Bloedspoor wys dat hulle na die slaapkamer gesleep is. Twee rondes ammunisie in die huis, bevestig dat hulle geskiet is.


Oom Tas Hefer en tannie Duifie Oosthuizen
Foto’s: Verskaf

Die huis is daarna aan die brand gesteek. Oom Tas het by die meule gewerk, en die huisie op die hoewe was deel van die pakket. Polisiewoordvoerder, kaptein Kay Makhubele, het bevestig dat plaaslike veiligheidswagte patrollie gery het en op die brandende huis afgekom het. Die polisie en brandbestryders is ontbied en die paartjie se verkoolde liggame is gevind ná die brand geblus is.

Die polisie het ’n erg getraumatiseerde ouerige Jack Russell-reun op die hoewe gekry. Wally was tannie Duifie en oom Tas se hondjie en ’n polisiebeampte het die skaaphondwelsynsorganisasie, Border Collie Rescue, in die vroeë oggendure van Saterdag 6 Februarie gebel om te vra of hulle na dié verdwaasde hondjie kon omsien. Wally is intussen aangeneem.


Wally ly aan skok ná hy gesien het hoe sy mense vermoor word

Llewellyn sê dat ’n vuurwapen, kontant, selfoon en televisiestel in ’n eerste voorval in Desember uit die paar se huis gesteel is.

Die polisie ondersoek ’n saak van dubbelmoord.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger