Tessa herstel wonderbaarlik ná weerligslag Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 22 January 2021 13:34
Untitled Document

Dit gaan deesdae goed met Tessa Erasmus, die meisie wat verlede jaar op Vrydag-die-dertiende Maart deur weerlig raakgeslaan is. Tessa het in Desember 13 jaar oud geword en gaan vanjaar Garsfontein Hoërskool toe.

In ‘Weerlig wys wonderwerke gebeur nog’ het ons in April verlede jaar vertel dat Tessa letterlik uit die dood uit opgestaan het. Sy het geen pols gehad nie en daar was geen asemhaling nie ná sy half ses die oggend deur die weerlig getref is toe sy haar marmotte buite in hulle hok op die gesin se kleinhoewe in die Boschkop-omgewing gaan kosgee het.

Tessa se ma, Gerda, het vertel dat dit daardie oggend nog donker was. Die krag was af en dit het gereën, maar daar was geen donderweer nie. Gerda en haar man Norman was ook buite en skielik het hulle ’n massiewe slag gehoor.


Tessa Erasmus en haar geliefde hondjie, Marley

Hulle het Tessa gekry waar sy by die marmotte se hok gelê het. Norman het haar ingedra en het kunsmatige asemhaling begin doen. Die Erasmusse se bure en gemeenskapsveiligheidsgroep het ’n rukkie later daar aangekom en het Norman gehelp om Tessa op ’n tafel op die stoep te tel. Saam het hulle probeer om haar by te bring en ná ’n rukkie was daar ’n flou polsslag en Tessa het stadig begin asemhaal.

Gerda en Norman het Tessa na die Wilgers-hospitaal geneem, waar sy gestabiliseer is. Sy is later die dag na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg se brandwondeenheid oorgeplaas. Daar is sy in die waakeenheid opgeneem en later na die hoësorgeenheid oorgeplaas. Tessa is ná ’n week ontslaan en die dokters het gesê dat haar vinnige herstel ’n wonderwerk was. Hulle het aanvanklik gedink dat haar longe, niere en brein beskadig sou wees.

Daar is later vasgestel dat die weerlig in is by Tessa se arm en uit is by haar heup. Sy het brandwonde aan die linkerkant van haar lyf en veral aan haar linkerarm en -been opgedoen.

Daar was drie gaatjies aan haar linkersy, waar die weerligstraal glo uitgekom het. Die Erasmusse het verneem dat die rubberstewels wat Tessa aangehad het, gekeer het dat die weerlig by haar voete uitkom. Die dokters het gesê dat dit meer inwendige skade sou veroorsaak het.


Terggees Tessa in die middel saam met ousus Laruchelle, links, en kleinsus Nadia, regs

Gerda sê dat Tessa vandag heeltemal herstel het, geen newe-effekte toon nie en nie meer behandeling kry nie. Haar wonde het genees, die vel aan haar arm het terug gegroei en daar is net ’n klein letsel op haar heup.

Eintlik, sê Gerda, gaan dit wonderbaarlik goed met Tessa. Sy oefen en hardloop soos altyd op die grondpad saam met die honde, is haar gewone terggees self en is reg vir die hoërskool se netbal-seisoen om af te skop.

Gerda vertel dat baie van Tessa se maats verlede jaar van blydskap gehuil het toe sy terug is skool toe. Die onderwyser, wat gevra is om ’n ekstra ogie oor haar te hou, kon nie glo sy doen so goed nie.

Tog, sê Gerda, roep sy en Norman gereeld vir Tessa om te hoor waar sy is wanneer hulle haar nie sien nie. Sy vertel dat 2020 ’n verskriklike jaar vir die gesin was. Behalwe die gevolge van die inperkingstyd en Tessa wat deur die weerlig raakgeslaan is, moes ousus, Laruchelle, ’n noodoperasie kry om haar blindederm, wat amper gebars het, te verwyder.

Dié jaar kyk ons net vorentoe, sê Gerda. Tessa gaan hoërskool toe, kleinsus Nadia gaan graad een toe en ousus Laruchelle gaan graad tien toe. “Ons het baie om voor dankbaar te wees.”

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger