Hartseer afskeid van Marie geneem Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 04 December 2020 15:53
Untitled Document

Marie Hattingh van Rayton is op 8 November skielik tuis oorlede.

Sy was een van die Bronnie se grootste aanhangers en haar dogter, Thelma Grabie, sê dat haar ma baie ingenome sou wees om te weet dat daar ’n huldeblyk aan haar in Die Bronberger is.

Marie, ’n nooi Markram, is op 6 Mei 1946 in Thabazimbi gebore. Sy het op Marikana groot geword en het op Rustenburg skool gegaan.

Marie en Jimmy is in die vroeë 1990’s in Durban getroud en het met hulle aftrede Rayton toe getrek.

“My ma was ’n ongelooflike mens, vol liefde en omgee,” sê Thelma. “Sy het altyd uit haar pad gegaan om mense te help. Sy was ongelooflik passievol oor familie en ons taal. My ma het mense altyd met respek behandel en sy het mede-respek verdien, en nie afgedwing nie. Haar plek is leeg en sy gaan ongelooflik baie gemis word.”


Marie Hattingh

Behalwe vir al die briewe wat Marie vir Die Bronberger geskryf het, het sy in ons Desember 2015 uitgawe ook deelgeneem aan ’n meningsopname oor Kerskosse van vandag en gister.

Marie het vertel dat die Kersete in haar kinderdae ’n ‘allemintige groot fees’ was. Sowat ’n 60-stuks familielede en vriende het by haar ouma Annie se huis op Marikana saamgetrek.

Weke voor die tyd is die gebak reeds begin en Marie het vertel dat haar ouma se konfyt-tertjies in die koolstoofoond gebak is sonder dat ’n druppel konfyt ooit uitgeloop het.

Die Kersete was ampers in oorvloed, het Marie onthou. Koue vleise en slaaie dat die tafels kreun, maar niks ‘winkelkos’ nie – alles self en met sorg voorberei: Tuisgebraaide skaapboud, potgebraaide beesstukke, beestonge, plaashoenderporsies en varkboude.

Marie word oorleef deur haar man, Jimmy Hattingh, drie kinders – Albert de Wet, Anjo Smith en Thelma Grabie – nege kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Marie het altyd oor die verlies van familie gesê: “Die seer gaan nooit weg nie, maar jy leer om daarmee saam te lewe.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger