Is die wêreld op sy kop, oom Kersvader Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 04 December 2020 15:50
Untitled Document

Liewe oom Kersvader en tannie Kersmoeder. Dis ek, Daantjie van Donkerhoek.

Ek hoop oom-hulle kry my brief. My pa sê ons sal die brief moet iemail, want soos als hier by ons, werk niks wat moet werk nie. Ook nie die mense nie, al gaan hulle werk toe en kry hulle geld. Ek verstaan nie mooi nie, oom.

Die hele wêreld is op sy kop, oom. So sê my pa. Bly oom en die tannie dan nou op die Suidpool, oom? Is dit hoekom ons nou moet iemail?  

Ek moet ook net my sterte dank en hoop dat daar by oom Kersvader-hulle ’n tykelot is, sê my pa. Hy dink nie oom gaan oor al die grense kan kom met ’n bokwa vol persinte nie oor die kouwit-virus oral ’n spênner in die wiele sit. Dan sê my ma my pa moet nie vir hom simpel hou nie en ’n klomp strooi in die kind se kop praat nie. Ek is die kind, oom.

Maar hy sê ek moet maar vra of oom vanjaar my persint saam met die tykelot kan stuur, anders kry ek sweerlik (my pa ken snaakse woorde, oom) nie ’n date (weet nie wat dit is nie oom) nie. Ek wil in elk geval nie ’n date hê nie, dankie oom. Dis seker maar iets wat my pa wil hê.

As oom Kersvader nie met tykelot kan regkom nie, sal ek verstaan, oom. Veral as dit nou so is dat oom en die tannie nou doer onder in die ys en nie doer bo sit nie. Met dié dat die wêreld dan nou so heeltemal op sy kop is.

As oom net oom se invloed (nog een van die snaakse woorde van my pa) kan gebruik om te help dat die Sjinese pes wat almal op hol het en mense maskers maak dra en heeldag hande maak was en laat siek word en bang word en te veel by die huis laat bly en te min met ’n mens se maatjies te laat mag speel en nie meer saam met ’n mens se pa Loftus toe mag gaan nie en nog baie goed, oom – as oom net oom se invloed kan gebruik om die Sjinese pes uit te roei, sal dit al klaar vir ons almal ’n baie groot persint wees.

En ek dink nou net aan ’n paar ander peste wat oom ook kan help uitroei, terwyl oom-hulle besig is. Maar ek sê maar niks dan is daar niks. My ma sê altyd só.

Maar sê nou net tykelot kan oom help, sal oom Kersvader tog asseblief onthou dat daai rooi kanoeboot vir op die dam ry, nou nog nie by my aangekom het nie?

Sê groete aan die takbokke en die kabouters en die tannie en as oom ry, moet oom mooi ry en as oom bly moet oom veilig bly, oom.

Van Daantjie, plot 1930, Donkerhoek

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger