Jare se kuiergenot met hartseer by Klubhuis hervat Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 14 November 2020 08:30
Untitled Document

Dis Sondag 1 November 2020. Presies ‘n jaar gelede het Lynette Breytenbach weer beheer by Kitty Hawk se Klubhuis-kuierplek geneem. Dit was ‘n moeilike jaar en dit was ‘n hartseer jaar: Inperkings het kuierplekke oral, ook by Lynette se Klubhuis, gekniehalter en later in die jaar is haar geliefde man, Nico, oorlede.

Dit was juis by die joviale en beminde Nico en sy Lynette se destydse Nikos-kuierplek op Zwavelpoort waar Vreethans en Metgesel meer as 18 jaar gelede aangesit het om die heel eerste keer vir die Bronnie verslag te doen.


Lynette sluit vir ‘n kuiertjie op ‘veilige’ afstand by ons aan met die kroeg in die agtergrond

En toe ons meer as nege jaar later by Kitty Hawk inklok, was Lynette daar aan die roer van sake (en potte) en kon ons weer heerlik saam met Nico-hulle by dié restourant-plek by die vlieghawe in die oopte van Boschkop kuier.

Vandag, op 1 November, is dit met nostalgie en die hartseer wat nog vlak lê, dat ons weer by die Klubhuis instap. Dit het vroeër gesous en die wind waai stewig en hy byt bitterlik.


Deel van die binnewerke van die groot kuierplek met die kombuis in die agtergrond

Die verwelkoming en weersiens van Lynette daar in die ruim binnewerke van die Klubhuis en kroeg is warm en opreg, hoewel die trane weier om hulle deurgaans te laat sluk. Oor twee dae is dit liewe, wyle Nico se verjaardag.

Met vorige besoeke van ons alhier, het ons meestal verkies om buite op die stoep of die grasperk onder sambrele saam te syn en in te neem. Altyd was dit nog aangenaam hier langs die vliegveld op die bankeveld aan voetheuwels van die Boschkop-rantjies.

Vandag kan ‘n ou verstaan hoekom ons binne plaasneem. Soos genoem, is dit ruim en staan die tafeltjies in veilige afsondering en is die stoele om die groot tafels ‘n goeie Kovid-voorkomende ent van mekaar af.


Metgesel se sousige hoenderburger met skyfies en slaai

Die kroeg is naby genoeg vir ‘n baie flinke, gemaskerde kelnerin om ‘n koue bruisdrankie blitsig voor my te laat verskyn. Metgesel se koffie neem uiteraard ietwat langer om sy opwagting te maak, maar dis lekker koffie, sê sy. Bloot gemeet aan die hoeveelheid van dié boontjie-sap wat Metgesel daagliks verbruik, sou ‘n mens kon glo sy ken haar koffie.

Die spyskaart bied nie ‘n baie ruim keuse nie en jy mag vermoed dat die inperkingstyd daarmee iets te make het. Ek mis nogal sekere geregte wat my met ‘n aangename terug-verlang aan Lynette se kombuisvaardighede laat dink. Tog weet ek sonder twyfel ook dat dit wat wel te ete gebied word, uit die boonste spensrak sal wees.

Ontbyt kan in die vorm van ‘n ‘breakfast bun’ bestel word. Dit is ‘n broodjie met spek, eier en kaas saam met skyfies en kos R65. Jy kan ook omelette met spek en kaas of ham, kaas en tamatie teen R69 kies. Gekaasde spek-skyfies kos R45 en hoender-repies saam met allerlei R75.


‘n T-been, perfek halfgaar-tot-rou met ‘n stewige beeshaas-kant

‘n Paar keuses van geroosterde broodjies met skyfies teen iewers in die R50’s en burgers met skyfies in die R70’s of ‘n Prego-broodrolletjie teen R95 is beskikbaar. Daardie ou kroegete-gunsteling “steak, egg en chips” kos R95 en hoender-schnitzel met ‘n kaassous en skyfies R89. Ek oorweeg, weens die weer, die kerrie-en-rys (maalvleis) teen R57. Die huis-slaai weeg apart in teen R55.

Die T-been van 500 g wat ek bestel sluit, teen R125, skyfies en slaai in. Metgesel kom effe verbaas tot die besef dat dit letterlik jare laas was wat sy ‘n hoenderburger verorber het en bestel net daar een met skyfies teen R70.


Op ‘n mooiweersdag word daar druk op die stoep en grasperke gekuier  . . .

Ek vra dat my biefstuk asseblief halfgaar-tot- rou (medium to rare) moet wees. Teen hierdie tyd sal ek nie te veel teleurgesteld wees as dit in ander gedaante aangebring word nie. Dit het al te veel in die verlede gebeur. Maar kan jy dit nou glo? Die T-been is perfek halfgaar-tot-rou gedoen. Dis ‘n mooi snit met ‘n lekker groot beeshaas-kant (fillet) en ‘n goeie braaisous is opgeverf. Eintlik sou ek verkies om dié goeie T-been sonder ‘n braaisous aan te durf.

Metgesel geniet (ná jare) haar hoenderburger terdeë en is gaande oor die groot skyfies, of is dit skywe?

Die Klubhuis by Kitty Hawk was vir ons nog altyd ‘n lekker kuierplek en ‘n welkome ontvlugting van die gewone. Dit is veral nou weer die geval met Lynette aan die stuur.
Jy kan bel vir meer inligting: 083-518-8740.

 

© 2024 Die/The Bronberger