Kerk toe vir aansit ná sewe maer maande Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 16 October 2020 12:55
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die tyd is ryp! Die besluit is geneem: Die sewe maer maande van optel-, wegneem- en aflewer-kos het verloop. Ek en Metgesel besluit om af te sit na ‘n opregte kuierplek en te loop aansit vir ons spyse en drank – soos dit vir 18 jaar voor die Covid-gogga se inval was. En soos dit hoort.

Dis ‘n mooi Sondag en ons mik rigting Cullinan. Want, het ons gehoor, die ou hotel sit met nuwe eienaars en spyskaart en die ou stasie ook. Die dorpie wemel van die besoekers en in ons poging om te loop dagsê vir bekendes onder aan Oaklaan se stertkant, beland ons jou werklikwaar in ‘n allemintige verkeersknoop.

Met die losknoopvernuf van ‘n wafferse Houdini, kry ek die voertuig omgedraai en só gebeur dit dat ons, ons onbepland bult-uit aan die bokant van Oak bevind. En net hier loop ons, ons in ‘n nuwigheid vas: ‘n Verrassing, kan jy maar sê.


Ons was eerste by die opskepbakke, waar Anita – een van die vennote – hand bysit,
ná ons sewe maer maande

Op die sypaadjie voor en oorkant die geskiedkundige Anglikaanse ou klipkerkie staan ‘n aantal voertuie geparkeer. Op die terrein is oral van daai halfmaan advertensie-vlae staan gemaak en daarop staan ‘@Church’ – groot gedruk.

Ek onthou ‘n andermaandse advertensie in die Bronnie dat daar neffens die kerkie ‘n funksieplek opgerig is en dat troues en ander gedoentes daar gehou sou word. Maar toe gebeur Covid-19 mos en die vennote wat die plek langs die kerk opgerig het, maak ‘n plan. Hulle maak (toe dit moontlik word) ‘n kroeg en kuierplek neffens die kerk oop.

Die funksieplek is spesiaal gebou met stene wat bykans op ‘n knoets na die kerk se klipmure lyk. Die kerkie is terloops deur sir Herbert Baker ontwerp en in 1908 het sir Thomas Cullinan se vrou, Annie, die hoeksteenlegging gedoen. Wonder tog hoekom sy nie ‘lady’ Annie was nie.

Ná ‘n lang en soms sukkelpad deur die jare het die biskopdom (geen disrespek bedoel nie) besluit om die ryk stukkie geskiedenis te verkoop. Die vennote wat die kerk en terrein gekoop het, het die edele en regte ding gedoen deur niks aan die kerkie self te verander nie, en ‘n dergelik-lykende gebou neffens hom op te rig.


‘n Baie ruim en gesellige kuierstoep

En dis net hier op ‘n baie ruim kuierstoep met restaurant en kroeg reg langs die kerk waar ek en Metgesel die sewe maer maande tot einde bring. Jy kan ook binne loop aansit waar kunswerke ruim teen die mure uitgestal word. Die kelners, kroegman, kok en eienaars is gemoedelik, flink en vriendelik. Die bier is yskoud en Metgesel meen die koffie smaak vorentoe.

Die spyskaart bepaal hom hoofsaaklik tot pizzas (12 keuses) met pryse wisselend tussen R50 en R150. Metgesel bekyk iemand anders se bestelde pizza en meen die pryse is sommer baie billik.

Jy kan vyf soorte hamburgers by ‘bykerk’ kry en dit word saam met skyfies bedien. Dan bied die spyskaart ‘n paar spesialiteite soos beeshaas (fillet), skyfies en slaai teen R140 en murgbene op roosterbrood teen R55.


Die inloopslag met die ou kerkie links en die nuwe kuierplek by die kerk in die agtergrond

Genoeg oor die spyskaart want dis Sondag en Sondag is dit buffet-dag by ‘bykerk’. Dis selfhelp vir ons tot barstens toe teen R110. Die twee vleiskeuses is lamsbredie en gevulde borsies van hoender. Ek wil amper beweer my lamsbredie op rys was perfek. Daarby saam gebakte soetpampoen met kaneel en ‘n gekaasde, gespekte rooikool wat eintlik pers is.

Ek het die ete baie en met waardering geniet maar dis Metgesel wat nie oor die hoender (sy gebruik mos nie soogdiere nie) uitgepraat kon kry nie. Dit, sê sy, is mos hoe ‘n goeie kok die droog uit witvleis kan haal. Binne gestop met fetakaas en spinasie en bo-oor is verskillende kleure pepers in geel kaas vasgesmelt. Nagereg was ‘n ordentlike sjokoladekoek.

Ons het geniet en kan maklik weer by dié kerk loop draai. Jy kan hulle bel by 074-771-1199.

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 

© 2024 Die/The Bronberger