Is dit Mooikloof se luiperd wat nou op Boschkop loop? Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 19 September 2020 06:56
Untitled Document

Die luiperd wat gereeld nagtelik oor Mooikloof se sekuriteitsheining geklim het, het soos ‘n groot speld verdwyn. Of het hy net sy nagtelike wandelings na Boschkop uitgebrei?

Die wêreld het gegons oor die beeldmateriaal wat deur sekuriteitskameras vasgevang is van die Mooikloof-luiperd, wat glo sedert 7 Augustus dié spog-landgoed aan Garstfonteinweg-verlenging besoek het.

Die Mooikloof Huiseienaarsvereniging het bevestig dat hulle die Gautengse nasionale bewaringsinstansie laat weet het en dat beamptes die landgoed besoek het om die saak te ondersoek.

Teen die Bronnie se saktyd was daar geen taal of tyding van dié luiperd nie, maar ‘n kort video wat op die Mooiplaats-Zwavelpoort-Tierpoort gemeenskapsveiligheidsgroep geplaas is, wys hoe ‘n uitgegroeide luiperd teen ‘n tweespoor grondpaadjie af loop. Mark Bekwith sê dat dié video op sy vriend se Boschkop-plot geneem is. 


Dit is hoe die luiperd oor Mooikloof se sekuriteitsheining klim

Judy Davidson van die SA Wild Rehabilitasiesentrum het gesê dat die Bronberg-bergreeks luiperdgebied is en dat luiperds gereeld op CCTV-kameras se beeldmateriaal gesien kan word.

Kiepersolkamp: In Maart het ons berig dat waarnemingskameras se nagfoto’s wys dat luiperds nog die Bronberg as jagveld benut. Dié kameras is in plek gesit deur André en Engela Hennop van Kiepersolkamp, Zwavelpoort omdat daar van hulle wild begin ‘verdwyn’ het.

Kiepersolkamp loop bo-oor die Bronberg en is neffens die Colyns se grond langs Lynnwoodweg-verlenging. Piet Colyn se familie het die oorspronklike plaas Zwavelpoort besit en hy het vir die Hennops gesê hulle moet ‘n bietjie kyk na grotte in die berg. Dit is waarskynlik waar die luiperd woon.

Nkwe: Vroeër vanjaar het die mense van Nkwe-woonwapark en -piekniekoord op Tierpoort Die Bronberger laat weet dat hulle weer ‘n luiperd daar gesien het.

Bapsfontein: In September 2017 het dr Pieter Engelbrecht, ‘n veearts van die Bapsfontein Dierehospitaal en ster van die televisiereeks ‘Dieredokter’, ‘n luiperd agterna gesit, is deur hom stormgeloop en kon hom op die ou einde verdoof.

Die vang-drama het begin toe ‘n vrou van die Elandsfontein-kleinhoewes gebel het om te sê daar is ‘n luiperd in haar tuin. Later was daar nog ‘n oproep van Derrick Dercksen van ‘n kleinhoewe op die Bapsfontein / Bronkhorstspruitpad (R25) nader aan Kemptonpark. Hy het gesien hoe die luiperd oor die pad voor sy plot loop en toe in ‘n boom klim.

Die luiperd is uiteindelik tussen buitegeboue langs die Kaalfontein-pad 7 km buite Bapsfontein deur ‘n boer se honde vasgekeer.


Mark Bekwith sê dié video is op sy vriend se Boschkop-plot geneem 

Mooiplaats: In November 2010 het ons berig dat ‘n luiperd op 14 Oktober gevang is nadat hy vier ure lank in ’n bloekomboom op Anton Bester se Mooiplaats-plot tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier, gesit het.

Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring se hulp is ingeroep en hy en ’n veearts van die Pretoriase Dieretuin het ’n gesamentlike strategie uitgewerk om die luiperd te verdoof.

Die luiperd is Ingwe gedoop en moes eers ’n tandoperasie by Onderstepoort ondergaan voor hy in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat is.

Zwavelpoort: Denyse en Liana van Hoepen van Zwavelpoort het vertel dat Ingwe waarskynlik dieselfde luiperd is wat vroeër in 2010 naby hulle doenig was. In Die Bronberger se Januarie 2010 uitgawe het ons berig dat ’n luiperd hom in die Bronberg tuisgemaak het en reeds minstens een troetelhond, Danie van Hengel van Zwavelpoort se Jack Russel, verslind het.

Tierpoort: In Die Bronberger se September 2009 uitgawe, het ons berig dat Richard Wade, argeoloog-sterrekundige van die Nkwe-rif Sterrewag een aand, toe hy om die draai by die Nkwe uitdraaipad kom, amper in ‘n luiperd vasgery het.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger September 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger