Gertie Stofberg van Kleinfontein:
Heerlik sit en lees ek nou die Bronnie op my rekenaar met ’n lekker koppie tee. So kom ek by die artikel ‘Inperkingsvriende’ en lees van die sebra en Rocky die bulhond (te dierbaar).
Ek stuur ’n foto van ons hond, Otto, in ons sitkamer. Hy kyk by die venster uit, asof hy nou ook ingeperk is. Hy is by reël ’n buitehond, maar daar sal hy nou sit totdat iemand in die straat verbyloop, dan ‘snol’ hy by die deur uit en gaan wag by die hek.

Otto in grendeltyd
‘Geen besoeker’, draai hy maar gedweë om en kom sit weer by sy venster. Hy maak van die geleentheid gebruik om homself oral in die huis tuis te maak, want “ek mag mos nie uitgaan nie”.
Ons kat, Jasmyn, gaan sit soms op die snaaksste plekke. Net nou die dag, tot my verbasing, sien ek Hasie van oorkant die straat, wat vir Jasmyn kom kuier. Nog nooit was ek bewus van hierdie verhouding nie, maar dalk is dit maar hulle alledaagse gedrag wanneer ek bedags by die werk is. Wie weet wat hulle aldag kwytraak.

Jasmyn en Hasie
Hoe dankbaar is ek nou vir hierdie deel van die grendeltyd, waar ek my viervoet-kinders kan geniet.
Nogmaals dankie vir die e-Bronnie. Ons geniet dit vreeslik en nou maak ek sommer van die geleentheid gebruik om aan familie en vriende te stuur, in ander provinsies en oorsee.
Brief verkort. – Red |