Ons loop ons vas in ‘n baie aangename verrassing Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 26 February 2020 10:21
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Soms, net soms, word ‘n ou baie aangenaam verras as jy by ‘n nuwe (vir jou) kuierplek inval. Só was dit dan een van daardie aangename somsighede toe ek en Metgesel op ‘n onlangse Sondag by The Social Grill loop draai het.

Gewoonlik is Metgesel ietwat skepties oor plekke wat ‘grill’ by hulle name voeg en veral as dit ‘pub & grill’ is. Dan neig sy om dit op egte Afrikaans uit te spreek. Maar ver verwyderd van enige onwelriekende glipsie en met geen rede vir gril nie, is dié kuierplek in die oopte ‘n klipgooi of twee van Garstfonteinweg af.


Só ry die treintjie by die Social Grill

As jy afdraai met die begraafplaas-pad en jy draai gou weer links, kom jy by ‘n oases-oopte aan waar The Social Grill baie ruim koelte-aansitplek buite in die mooi, waterryke tuine of binne in die groot kuiervertrek bied. ‘n Kranige kelner met die naam Donald begelei ons na ‘n tuintafeltjie. Donald praat pragtige Afrikaans. Ons voel ons tuis.

Hy bring die spyskaart en ‘n klammigheidjie vir die keel en deel ons mee dat die plek se sjef uitnemend van talent en ervaring is. Die sjef het al van Parys in die Vrystaat, Parys in Frankryk en tot in Engeland en ander ver plekke sy kuns vervolmaak, skerts Donald.

Later sou ons saam met Donald die sjef se vernuf kon aanprys. Ons is veral bly dat hy (die kok) nie die nare neiging van mooi kossies in piepklein porsies in sy omswerwinge aangegryp het nie. ‘n Mens sou die welberese sjef eerder van heerlike en welkome oordadigheid kon beskuldig.


’n Volgepakte pizza vir Metgesel

Ons geniet die klammigheidjie en die rustigheid en bestudeer die spyskaart. Oral sit groepies gemoedelik aan’t kuier, ‘n treintjie woerts met een passasier anderkant die waterlopie verby. Hier is dit lekker.

Ek sidder ietwat as ek eenkant ‘n ou met ’n kragkitaar en klankversterker sien waar hy gereed maak om sy ding te doen. Maar dit sou later blyk dat die musikant eerder sou bydra tot die geselligheid as om dit weg te raas. Rustig en mooi binne perke, voer hy bekende en meestal mooi ou liedjies uit.


Die plek het ruim aansitplek in die lapa

Die spyskaart is redelik lywig en die geregte spreek van verskeidenheid en verbeeldingrykheid. Duidelik is hierdie kok nie sommer ‘n hierjy nie. Hy het die keuses in ses onderafdelings gelys: “Small plates, steak/salad, pizzas, big plates, sides en desserts.” Deurgaans lyk die pryse meer as baie billik.

Die 16 inskrywings onder ‘small plates’ kos almal onder die R100 en blyk later om geensins so ‘small’ te wees nie. Enkeles wat die oog vang is: ‘Golden prawns’ wat diep gebraaide ‘panco’ garnale met ‘n matige peri-peri-mayo-sous is en R89 kos. ‘Boere sushi’ is sagte kruisskyf-repe gerol om grasuie met ‘n ‘teriyaki’ sous en sesamsade en daarby ‘n ‘Asian parcel’ teen R99. Die murgbene het uitgebraaide skenkelvleis, gorgonzola ‘crumble’ en ‘croutons’ daarby en kos R75. Later sou ek baie bly wees oor ek dit gekies het.


Die ervare sjef toor met ‘n murgbeen en kantbordjies

Die biefstuk se pryse is ook baie billik met die kruisskyf van 300 g byvoorbeeld teen R109 en een stuk bees van 600 g wat hulle ‘tomahawk’ noem (ek vermoed iets Amerikaans) teen R189.

Die pizzas se pryse (groot keuse) wissel tussen R79 en R139. Metgesel besluit op die vegetariese een teen R89. Soos gemeld is ons uitgelese sjef nogal oordadig. Amper alles bloedloos waaraan jy kan dink is in oorvloed op die groot, dundeeg-pizza gepak. Sy eet genoeg en geniet erg. Later daardie aand by die huis doen sy verder voort.

Onder ‘big plates’ is keuses soos varknek teen R105, kortrib van bees teen R140 en meer wat alles in die voorbereidingsbeskrywing voortreflik klink, maar daar gelaat, want plek raak min.


Plek vir groepe gemoedelike kuiergenote

Saam met my murgbene bestel ek uit ‘sides’ kapokaartappels met grasuie en baba beet met allerlei geursels en gedoentes voorberei. Die ‘sides’ kom in ‘n gelaaide diepbord aan. Dis baie, dis heerlik en dis billik teen R25 en R29 onderskeidelik. Onomwonde stel ek dit: Nog nooit is ‘n murgbeen (groot en in die lengte gesaag) só baie deur die uwe geniet nie.

Natuurlik hou hulle nagereg en nog allerlei aan. As jy van eenkant, dog naby die gewoel, se kuier in ‘n mooi omgewing hou en goeie kos, atmosfeer en diens staan jou aan, kan jy gerus by The Social Grill draai. Bel hulle by 063-732-1058 vir meer inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger