“Ons het gewonder waarom die spekvreters so opgewonde raak as ons op die stoep sit,” sê Jacques en Wynie Malan van Boekenhoutskloofdrift noord van Cullinan. Die Malans vind toe uit dat dié egpaar-spekvreter ‘n nes in hulle plantstaander gemaak het.
Jacques sê dat hulle die nessie tussen die bakstene, wat die vals bodem vir die plante vorm, gemaak het. “Ek weet nie hoe hulle daardie gaatjie gevind het nie,” sê hy.
Die spekvreter is ‘n klein grys-bruin voëltjie van omtrent 15 cm lank met ‘n rooibruin agterste deel
. |
Die nessie met spekvreter-kuikens
Foto’s: Jacques en Wynie Malan
. |
Selfs die Voortrekkers, wat dié voëltjies hulle volksnaam gegee het, het gesien hoe spekvreters sommer maklik hondmak word. Die Voortrekkers het harde vet, en veral spek, as smeermiddel op die ossewaens se asse gebruik en het agtergekom dat spekvreters agter dié lekkerny aan is.
Jy sal dié voëltjies gewoonlik in klein familie-groepies van drie tot vyf voëls sien en dié groepies word baie mak in tuine. Hulle vreet insekte en vrugte en sal enige vet vreet wat ‘n mens in die tuin vir hulle uitsit.
Die nessie is in die skottelgedeelte van dié plantstaander op Jacques en Wynie Malan se stoep op Boekenhoutskloofdrift gemaak
Die gewone spekvreter, Cercomela familiaris, broei tussen Julie en April. Die nessie word aanmekaar gesit met hare, wol, vere of sagter plantmateriaal wat op ‘n groter plat stuk harde materiaal gebou word en op die grond of aan ‘n rots geanker word.
Die nessie word soms in ‘n gat in die grond, die wal van ‘n donga of teen ‘n rotswand gebou.
Spekvreters sal ook nessies bo-op geboue maak en sal selfs ou versamelvoëlneste gebruik.
Hulle lê twee tot vier eiers wat binne 13 tot 15 dae uitbroei. Die kuikens word deur altwee ouers gevoer en verlaat die nessie ná 15 tot 19 dae. |