’n Groep mense wat hulself swart
Afrikaners noem woon nou al vir
langer as ’n honderd jaar op
grond wat Paul Kruger aan hulle
toegestaan het. Onverwacht is ’n
nedersetting ongeveer tien kilometer
noord-oos van Cullinan en hier
word daar Afrikaans gepraat,
Afrikaans ge-kerk en vetkoek,
pannekoek, koesisters en kerriehoender
geëet.
Die Onverwachters is afstammelinge
van bevryde Maleise slawe wat
saam met die Malan nátrek in 1857
hier aangekom het.
Verenigde Gereformeerde Kerk Onverwacht met sy ou kerkklok
Foto?s: Cullinan Meander |
Hulle vertel ook verhale van ’n verwantskap
aan Mzilikazi en hoewel
hulle intussen ondertrou het met
lede van die Pedi-stam, kan die oorgrote
meerderheid geen ander taal
as Afrikaans praat nie.
Met die eerste en tweede Vryheidsoorloë
het die nátrekkers sy aan sy
saam met die Boere geveg en Paul
Kruger, president van die ou Zuid-
Afrikaansche Republiek, het hulle
belowe dat hy vir hulle grond sou
gee as die Boere wen.
Die Boere het verloor, maar die
nátrekkers het steeds hul grond
gekry. Nie verniet nie, maar teen ’n
weggee prys van iets soos 36 pond
vir ’n smal strook grond van
36 morg wat aan ’n rivier grens. Dié
geskenk was vir die nátrekkers ’n
onverwagte verrassing. Hulle reaksie
was, “Dit is onverwachts,” en so
het die nedersetting sy naam gekry.
Daar is oorspronklik 57 families op
dié plaas gevestig en in die begraafplaas
lê die Booysense langs die
Standers en Dingaans begrawe. Die
oudste mens wat hier begrawe is,
het 124 jaar oud geword.
Onverwacht se eeu-oue opstalletjies |
Bloed
Onverwacht-inwoner, Patricia
Machobani, vertel dat haar voorouers
voor 1900 nie vanne gehad
het nie, maar dat haar voorvader
homself Machobane genoem het.
Dié naam beteken “ons huil bloed”.
Blykbaar het hy die naam gekies oor
al die bloed wat op die pad uit die
Kaapse Kolonie agter die Voortrekkers
aan gestort is.
Die Onverwacht voorvaders is in
1838 per voet agter die ossewaens
aan. Ander afstammelinge van dié
bloed-nátrekker is die Tlabati’s,
Monares, Napaais, Hartmanns,
Hartzenburgs, Nagels, Meletsi’s,
Matles en Bothas.
Vandag se kinders is die sesde geslag
Onverwachters en deur die
afgelope eeu het ’n klomp dinge
verander. Toe die Groepsgebiedewet
ingestel is, het baie Onverwachters
hulle huise verloor en
sommige is na die tuislande gestuur.
Hulle kon egter glad nie ’n swart
taal praat nie en het nie daar ingepas
nie. Dit is toe dat baie Onverwachters hulle vanne begin verander
het. Patricia se ouma moes
onder eed sweer dat sy geen ander
taal as Afrikaans kon praat nie, voordat
haar van na Botha verander is.
Die meeste afstammelinge woon
steeds in die opstalle wat reeds
ouer as ’n honderd jaar is. Daar is
nou omtrent 100 families in Onverwacht,
maar dit wat eens ’n vooruitstrewende
boeregemeenskap was,
sukkel vandag met plakkers wat hul
intrek op die plaas se weivelde
geneem het. Ou inwoners is ook nie
gelukkig met die Hop-huise wat die
regering vir dié plakkers op hul
“bloedgrond” kom oprig het nie.
Onverwacht se begraafplaas |
Roete
Onverwacht vorm deel van die Gautengse
Grondhervorming Toeristeroete
en word ontwikkel deur
Khulile Africa met befondsing van
die Gautengse Toerisme-owerheid.
Kultuurhistoriese toere word deur
dié nedersetting gereël waar ’n
mens met donkiekarre kan rondry,
die begraafplaas kan besoek of die
Sondag met ’n kerkdiens by Onverwacht
se Verenigde Gereformeerde
Kerk kan begin. Daar word die
gemeente nadergeroep met die oorspronklike
ou kerkklok wat aan ’n
stellasie van vier pale hang.
Oor ’n naweek kan jy ook by die
inwoners aan huis gaan teedrink of
middagete eet. Die tee kom saam
met Onverwacht se tradisionele volgraan
koesisters wat in klapper
gerol is, vetkoek en pannekoek.
Middagete strek van kerriehoender
tot skaapbredie met ster anys, koljander,
rissies, knoffel en inkomazi
melk.
Wees gereed vir die nuuskieriges
wat sal naderstaan as jy aansit.
Kanse is goed dat hulle agter hul
hande sal fluister in ’n taal wat
amper na Afrikaans klink. Dis hulle
skindertaal en word ‘aalty’ genoem;
’n geheime taal wat die nátrekkers
blykbaar ontwikkel het as hulle van
die Voortrekkers wou skinder.
Die eerste letter van ’n woord val
weg en word aan die einde bygevoeg.
So woord ‘taal’ dan ‘aalty’ en
praat ‘aatpry’.
Om by Onverwacht te kom, draai ’n
mens oos uit Cullinan op die R513 in
die rigting van Bronkhorstspruit. Die
roete is gemerk met ’n bruin teken:
T5. Na 5 km draai jy links op die
Brandbach grondpad. Na ongeveer
5 km op dié pad draai jy links en ry
deur mielielande tot jy Onverwacht
voor jou kry.
Om ’n toer te reël of ’n ete-afspraak
te maak, bel Patricia by
076-756-9518 of toergids Thabo by
083-480-3365.
Vriendelike kinders van Onverwacht op pad huis toe met ?n vrag brandhout
|