Versmagting met een klap by Gabbata bevredig Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 19 November 2019 14:46
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Twee goed ‘smagneet’ geruime tyd reeds aan my en Metgesel: ‘n Rasegte, oordadige Sondag-middagmaal en die besielende rustigheid wat die bosveld bied.

Goeie vriende vertel ons van ‘n kuierplek wat ons versmagting glo met een klap sal vervul. Die plek se naam is Gabbata, sê vriende, en op ‘n mooi Sondag mik ons noord-oos op ons ontdekkingsreis.

Die aanwysings wat vriende gee is redelik ingewikkeld en eintlik heel onnodig, maar ons geniet die tog deur die oopte met baie draaie en afdraaie, driwwe, brûe en stukkies grondpad totdat ons in die diep koelte van ‘n bosveldboom voor die imposante plek in Roodeplaat se geweste (eintlik genoordooste) stilhou.


Vernuftig werk die braaisjef al kraploop heen-en-weer agter die lang braaibak

In Hebreeus beteken Gabbata ‘klipstoep’ (nagenoeg) en die groot kuierdek van die grasdakplek is maar een van ’n aantal aansitplekke aldaar. En dis hier waar die Sondagmaal voorberei, uitgestal en self-bedien word. 

Dis mooi en dis rustig op die grasdakbedekte klipstoep. Die tafels is mooi versier, die aansitstoele is mooi en baie gemaklik, die mense (personeel en gaste) is vriendelik en ontspanne en die omgewing en uitsig oor die oopte en bos is veral mooi.


Metgesel se bord vol varsheid as voorgereg

Eenkant beweeg ‘n netjiese braaisjef heen-en-weer agter ‘n baie lang braaikrip – met ‘n braaitang soos ‘n krap se knyper in die hand voor hom uitgestrek. Hy braai vandag se vleisgeregte – sosaties. Die drie soorte (bees, vark en hoender) lê letterlik soos sosaties bankvas in ‘n enkelry op die lang rooster bokant regte kole ingeryg. Nou-en-dan onderbreek hy sy krappegang om ‘n sosatie te draai of ‘n ekstra sousie op te verf.

Gabbata spog met ‘n redelik uitgebreide en verbeeldingryke spyskaart, maar ek gaan nie te veel daardeur dwaal nie, want vandag is dit Sondag en Sondae is dit (buffet) selfskepdag.


Selfskeppers het ‘n wye keuse so al langs die opskeptafels af

By die wye verskeidenheid ontbytkeuses op die spyskaart vang een wat hulle ‘speenvarkie’ noem die oog. Dit is pap met kaiings, sous, twee gebakte eiers en gebakte tamatie en dit kos R74. Ek tel sewe voorgeregte waaronder ‘n ‘klassieke’ prei-en-aartappelsop teen R42. Onder pluimvee sien ek ‘n Mosambiekse hoender teen R118 (twyfel of dit ingevoer is) en die lang lys pizzas en paar pastageregte weeg almal in teen net onder of net oor die R100. Hoofgeregte van vleis bied ‘n liplekker verskeidenheid, só lyk dit my, maar ek volstaan eers en wy (en wei) my aandag aan ons selfskepkuier.

Ons glimlaggende kelner het jou wrintie ook ‘n Hebreeuse naam. Ek loop later en goegeloer en hulle beweer Josephat beteken ‘hulpgewer’ en Josephat gee gestalte: Sommer gou gee hy hulp met ‘n ietsie koel vir die keel.


‘n Keurig gedekte tafel met die nodige byderhand. Die bone het ek weens plekgebrek onder die rys-en-sous begrawe

Met die intrap- en groetslag al, het die gawe egpaar-eienaars, Mariëtte en Pieter, dit duidelik gemaak dat ons na hartelus mag inval en eet soveel ons wil of kan en soveel keer as nodig mag ons loop opskep. ‘n Winskoop teen R145 per kop, sou ek dink.

Metgesel laai ‘n bordjie vol varsheid vir voorgereg. Baie slaaie is daar om uit te kies en ek vermoed sy probeer die hele lot beproe. Vars brode met selfgeboude smere, sien ek, maar toe ek die warmskottel neffens die voorgeregte se deksel oplig, is my voorkeuse gemaak: Murgbene lê oopmond en lag in ‘n ryk, bruin sous. Twee bene van murg en ‘n ietsie daarby, is dit vir my. Later sou ek daai sous oordadig oor my rys giet.


Iewers op haar bord was ‘n hoendersosatie ook

My sosaties is twee van bees en een van vark. Metgesel, wat mos soogdiere as kos vermy, kies die hoender. Anders as sy, het ek nie vandag lus vir slaai nie . . .

As bykosse skep ek ‘n stewige snit pampoentert (baie smaaklik), rys met murgbeensous, heerlike groenbone en gebakte aartappel met ‘n knoffel-en-tiemie-smakie. Metgesel aap my na, maar sit ook nog blaarkos by. Ons borde is vol en ons bekers loop oor.


Die ruim en koel kuierstoep met die oopte as uitsig

My sosaties is murgsag (amper) en baie, baie smaaklik. Ons eet al te heerlik aan ‘n lekker en ordentlike Sondag-middagmaal en sluit af met nagereg van malvapoeding met vla en roomys.

Die uittog na en ontspanne kuier by Gabbata, merk Metgesel met die terugrit op, het vir haar soos ‘n lekker kort vakansie gevoel. Met ‘n tevrede gemoed, beveel ek dié kuierplek vir ‘n Sondaguitstappie aan.

Bel hulle vir meer inligting by 082-420-9013.

 

© 2024 Die/The Bronberger