Sophie Breytenbach van Mooiplaats skryf:
Ek lees onlangs in ’n bekende dagblad van ’n hondjie waarop die DBV afgekom het wat klaarblyklik vir maande aan ’n tou iewers vasgemaak was. Die tou was al in die hond se vel ingetrek met swere daaromheen. Die diertjie het al die tekens van verhongering en dors getoon en onbehandelde sere.
Die eienaar het verklaar dat die dier deur die vorige eienaar aan hom opgedring was nadat dié getrek het en nie die hond wou saamneem nie. Hy het verklaar dat hy nie vir die hond kan sorg nie, maar die eienaar het gesê hy gee nie om wat die arbeider met die hond doen nie.
Ek het dié tendens vir die eerste keer ’n klompie jare gelede op ’n verlate plaas teëgekom. Ons moes daarheen gaan om ’n sleutel vir ’n huis te gaan oplaai toe ek die verwaarloosde, kruppel kollie-ras hond sien.
Op my vraag waar die hond hoort, het die swartman geantwoord dat die boer wat weggetrek het, die hond aan hom oorgedra het. Dit was duidelik weer ’n geval van ’n ‘geskenk’ op iemand, wat dit nie wil hê nie, afdwing. Ons eie swart werker het ’n antwoord gehad: In hulle kultuur is dit “bad luck” vir jou as jy ’n geskenk weier.
In dieselfde kategorie val die gewoonte om ’n klein katjie of hondjie vir ’n kind te gee. (Dalk een van die werpsel van Woef of Kiets wat die eienaar nie wil hê nie?) Sodra die oulikheid van die diertjie nie meer daar is nie, word hy/sy verwerp en nog ’n verwaarloosde, verwarde dier word op ons plotpaaie aangetref waar dit uit die kar gegooi is.
Liewe leser, ek hoop so om u simpatie vir hierdie arme diere te kry en dat u nie anderpad sal kyk wanneer jy so-iets opmerk of dalk self oorweeg om te doen nie. Die dierebeskermingsverenigings verwag net ’n donasie van jou as hulle die dier moet gaan oplaai en niks as jy die dier by hulle aflaai nie.
Ek skenk met ’n gewillige hart donasies aan hierdie plekke want die gevalle van verwerpte diere raak al meer namate die finansiële toestande in ons land verswak en meer mense hulle diere ‘weggooi’. |