Menige plaas- en hoewebewoners in ons kontrei sal sweer dat hulle kietsie nie sommer ‘n gewone huiskat is nie, maar ‘n kruising met ‘n wildekat. Dié mense is waarskynlik nie ver verkeerd nie – die twee spesies teel wel met mekaar, maar juis om dié rede is daar bitter min geneties suiwer wildekatte buite wildernis-gebiede oor.
Die vaalboskat, groukat of Afrika-wildekat, Felis silvestris lybica, is steeds relatief algemeen dwarsdeur Suider-Afrika, maar kruisteling met mak katte benadeel die genetiese integriteit van die wilde bevolking.
Suiwer vaalboskatte lyk anders as hibriede: Hulle het ‘n oranje kleur agter die ore en het langer bene.Hulle is ‘n vaalbruin tot geel of ligte grys kleur in westelike gebiede, maar is elders donkerder grys.
Die vaalboskat word aan sy oranje ore uitgeken
Foto: Willie van Schalkwyk
Merke op die lyf is rooierig tot donkergrys en sluit soms ’n effens donkerder streep op die rug in. Daar is gewoonlik ses vertikale donker strepe op die flanke, horisontale donker strepe op die bene en ringe om die stert, wat ‘n skerp swart punt het.
Die vaalboskat kom in Afrika, die Arabiese Skiereiland en aangrensende dele van Suidwes-Asië voor.
Die vaalboskat is ’n subspesie van F. silvestris. Dit lyk asof hulle ongeveer 131 000 jaar gelede afgestam het van ’n ander subspesie. Dié katte, wat ongeveer 10 000 jaar gelede in die Midde-Ooste mak gemaak is, is waarskynlik die voorvader van vandag se huiskatte. ’n Mak kat is saam met mensoorblyfsels, wat 9 500 jaar terugdateer, in Siprus ontdek.
Die vaalboskat of groukat, Felis silvestris lybica
Foto: Wikipedia
Ander
Behalwe die vaalboskat is daar ook ‘n ander subspesie, die Suider-Afrikaanse wildekat, Felis silvestris cafra, van die suidelike en sentrale dele van Afrika, wat geneties van die wildekatte in Noord-Afrika verskil.
Wildekatte in Afrika het korter hare as die Europese subspesie en is heelwat kleiner teen ‘n massa van 3 kg tot 6,5 kg en ‘n liggaamslengte wat wissel van 45 cm tot 75 cm en ’n stert van 20 cm tot
45 cm. Hulle skouerhoogte is sowat 25 cm tot 40 cm.
Die Suider-Afrikaanse wildekat, Felis silvestris cafra
Foto: Wikipedia
Wildekatte maak dieselfde geluide as huiskatte: hulle miaau, spin, sis en grom en hulle hare rys net soos dié van ‘n mak kietsie as hulle ‘n opponent probeer intimideer. Hulle is vleisvreters wat baie min water drink en hulle prooi bestaan grootliks uit knaagdiere, voëls en konyne, maar hulle vreet ook reptiele en insekte.
Dié katte is enkellopend en ‘n mannetjie se gebied oorvleuel met dié van drie wyfies. Die wyfie kry meestal drie kleintjies, gewoonlik in die warm, nat seisoen wanneer daar volop voedsel is. Sy is tussen 56 en 69 dae dragtig. Die kleintjies word blind gebore en het die volle aandag van die wyfie nodig. Hulle bly vir vyf tot ses maande by die wyfie. |