Rare beeldmateriaal van ‘n verskietende ster is op 2 Mei net voor 8.30 nm met ‘n voertuig se paneelbord-kamera vasgevang. Clinton Kruger het op die N1-noord snelweg gery en het die meteoor net voor die N4-wisselaar gesien.
Hy sê dat dié meteoor baie groter was as wat dit op die beeldmateriaal lyk. Hy het saam met sy stiefpa en niggie gery en nie een van hulle het verwag om iets so uniek te sien en boonop op video vas te vang nie.
Die verskietende ster is in die rooi kring te sien
Foto: Skermgreep uit die video
Volgens die Bronberg-weerstasie was dié verskynsel deel van die Eta Aquiriids meteoorreën, wat van 19 April tot 28 Mei aktief is. Dié verskynsel kom glo van stofdeeltjies wat deur komeet 1P Halley uitgeskiet word.
Elke keer as die aarde deur dié stroom stofdeeltjies beweeg ondervind ons so ‘n meteoorreën. Dié kortstondige ligstrepe, bekend as verskietende sterre, het op 6 Mei gepiek, toe die aarde deur die middel van die stofstreep, wat deur die komeet agtergelaat is, beweeg het.
Eta Aquiriids
Bron: Bronberg-weerstasie
Om een van dié verskietende sterre te sien moet ‘n mens in die aand oos kyk in die rigting van die Aquarius-konstellasie. Teen die piektyd kon ‘n mens 40 verskietende sterre of meer per uur sien. |