Flukse luislang kry 47 babas Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 25 March 2019 07:20
Untitled Document

Die Dinokeng-natuurreservaat noord-oos van Cullinan het op 3 Maart 47 jong luislange ryker geword. Dié slange het uitgebroei uit ‘n luislangnes wat in November van ‘n plaas op De Wagensdrift verwyder is.

‘n Luislangwyfie, wat 28 kg geweeg het, was halfpad opgekrul in ‘n erdvarkgat waar sy oor haar 52 eiers gewaak het. Die wyfie van 4,3 meter lank is deur Nico Engels, lid van die Hoëveld-herpetologiese vereniging, verwyder.


Die jong slange voor vrylating
Foto’s: Verskaf

Die eiers is na ‘n broeikas geneem en die wyfie is ‘n week later in die reservaat vrygelaat. Slegs vyf van die eiers het nie uitgebroei nie. Die jong slange is vrygelaat ná hulle vir die eerste keer vervel het.

’n Volwasse luislang kan tot ses meter lank word. Die gewone luislang, Python sebae natalensis, is die grootste slang wat in die bosgebiede van Suider-Afrika voorkom.


Etienne Gouws en Nico Engels by die luislangwyfie

Jong luislange vreet grootliks knaagdiere. Dié slang se prooi word al hoe groter soos die slang groei tot die volwasse slang kleiner boksoorte begin vang. Volgens Nico vreet dié slange gewoonlik nie meer as twee of drie bokke per jaar nie.


Nee, dit is nie broodrolletjies nie, maar ‘n slangnes wat November verlede jaar saam met die luislangwyfie noord van Cullinan verwyder is

Prooi word eers gebyt, waarna die luislang so styf as moontlik om die dier krul om hom uiteindelik te versmoor. Ná die dier se dood, sal die luislang hom kop eerste begin insluk. Luislange is nie giftig nie.

Die luislang is ongewoon in die slangfamilie omdat die wyfie in die broeitydperk by haar eiers bly. Sy lê van Oktober tot Desember broeisels met 15 tot 100 eiers wat sy warm hou en slegs verlaat op soek na water. Die eiers vat twee tot drie maande om uit te broei en die wyfie vreet glad nie in dié tydperk nie.


‘n Luislangetjie loer uit sy dop

Sy verlaat die eiers eers so 24 uur voor die klein slangetjies, van so 50 cm lank, uitbroei. Sommige bronne sê dat sy haar kleintjies nog twee weke daarna beskerm.

Nico Engels verwyder slange gratis, maar verwelkom donasies. Bel hom by 071-677-2186.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger