Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton
Lianie O’Neill
Ons is so te sê in die middel van die 2018 belastingseisoen, wat volgens my tot dusver redelik glad verloop. Wat my opval is die onsekerheid rondom die indiening van stawende dokumentasie wat deur SARS versoek word.
Hoe weet ek dat ek moet indien? Sodra jy die opgawe ingedien het, word die ITA34 of belastingaanslag dadelik uitgereik. Op die eerste bladsy reg onder die “assessment summary information” is nog ‘n blokkie wat lees “compliance information”. Daar is ‘n verdere blokkie wat sê “selected for audit or verification”. Daar sal dan ‘n “Y” vir “yes” of “N” vir “no” wees.
Indien dit aandui dat dit geverifieer moet word, beteken dit dat sekere dokumentasie op die stelsel gelaai moet word. Daar sal ook korrespondensie uitgereik word deur SARS en ‘n skakel sal oopgemaak word. Ek het egter ook ondervind dat dit soms nee aandui en dan word daar wel ‘n paar dae later korrespondensie uitgereik om verifikasie aan te vra.
Watter dokumentasie moet opgelaai word? Gaan noukeurig deur jou opgawe met die dokumentasie wat gebruik is om dit by jou in te vul. Maak seker van bedrae en dat dit op die regte plekke voltooi is. Indien jy tevrede is dat dit korrek is en geen verandering nodig is nie, moet jy die dokumentasie indien.
Die volgende sal alles wees wat op die opgawe aangedui is: IRP5 en/of IT3’s; berekeninge t.o.v. kapitaalwins; berekeninge t.o.v. ander inkomste, soos huur ontvang; logboek vir reiskoste-eis (wat hier soms addisioneel aangevra word is die aankoop faktuur of kontrak van die voertuig – laai dit sommer aanvanklik om die proses te vergemaklik); mediese fonds bydraesertifikaat asook addisionele mediese uitgawes se strokies; annuïteitsfonds bydraesertifikaat; en enige ander dokumentasie wat van toepassing is op jou eie opgawe.
Ek sukkel om dit op te laai. Wat is fout? Daar is sekere vereistes waaraan die lêer moet voldoen: Dit moet dokument soorte .pdf, .doc, .docx, .xls, .xlsx, .jpg en .gif wees. Die maksimum grootte is 5 MB en ‘n maksimum van 20 lêers kan opgelaai word. Die dokument moet nie ‘n wagwoord op hê nie.
Die naam moet nie spesiale karakters, soos !@#$%^&*, bevat nie. Excel dokumente mag net een bladsy bevat. Indien dit aan hierdie vereistes voldoen, behoort dit maklik op te laai. Sodra al die nodige dokumentasie gelaai is, kan die “submit” knoppie gedruk word.
So, roer jou litte – dien in en laai op sodat jy die swaarkry met lekkerkry kan klaarkry. |