Boererate teen ?n loopmagie Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 18 March 2009 08:19
Untitled Document

Liewe tante Leen,
Baie dankie vir al die boererate teen loopmaag wat tante en tante se vriendinne daar by Huis Herfsblaar vir my aangestuur het. Ek waardeer dit.

Ek het toe gemaak soos tante gesê het ek moet maak met die appel. Eers gerasper en toe teen kamertemperatuur laat lê en gis totdat dit mooi bruin was. Tante Leen, ek wil nou nie ondankbaar klink nie, maar ek kon die vrot appel om te dood nie afgesluk kry nie. Nie sommer net so skoon nie. Toe meng ek dit maar met ’n paar van die ander tannies se rate; die ongegeurde Griekse joghurt, die handvol knoffelvlokkies en die opgehoopte eetlepel kaneel.

Ek sluk die lotjie toe af met tante Sus se boegoetee met heuning en gerasperde neutmuskaat en ek gaan sit doodstil en wag dat dit moet werk. Vir die ophou werk, bedoel ek nou. Maar tante, ná ’n rukkie gee my maag die aardigste draai en hy gorring gevaarlik, amper soos die ou Listerenjin net voor hy backfire.

Dis toe dat ek maar tannie Viljee se raat ook volg. Sy het gesê ’n mens kan twee dessertlepels mielieblom, opgelos in ’n bietjie lou water, gebruik of jy kan twee lepels vlapoeier gebruik. Ek dag toe ek meng sommer die twee, en net om seker te maak gebruik ek nie lou water nie, maar die liter outspapaftreksel soos wat tante Ria aanbeveel het. En ek gaan sit weer doodstil sodat dit kan begin werk - of ophou werk, dan.

Dis toe dat ek om die een of ander rede die verskriklikste maagpyne begin kry. Iets vreesliks, tante. Tante Hess het mos gesê sy glo net in borrie vir ’n omgesukkelde maag en ek dag, wag, laat ek dit probeer. Jy meng so drie lepels borrie met warm, volroommelk. Jy kan heuning bysit as dit te sleg smaak, het tante Hess gesê, en dis toe wat ek doen. Nou weet ek nie mooi watter een van die rate gewerk het nie, maar tante sal bly wees om te hoor dat dit wel gewerk het. Goed gewerk het.

Dis nou amper twee weke dat dit nog nie weer vir my nodig was om my sit te loop sit nie. Die dokter het gesê as die goed wat hy vir my gegee het teen more nog nie die spulletjie aan’t werk gesit het nie, dan moet ek inkom. Wat is ’n enema, tante? Maar ek is half skrikkerig vir dokters en ek wonder nou of tante-hulle nie vir my ’n paar boererate het vir ’n harde lyf nie.

Groete, Neef Gert

 

© 2024 Die/The Bronberger