Untitled Document
Genoeg mense het dié voël al in
’n vlietende oomblik vir ’n
waterslang aangesien. Hy is
een van die enigste watervoëls wat
nie waterdig is nie en hy kan nie
vlieg as hy klaar geswem het nie.
Ons praat van die slanghalsvoël. Hy
het sy naam gekry omdat sy lyf heeltemal
onder die water verdwyn
wanneer hy swem tot net sy lang
reieragtige nek en slanke kop uitsteek
terwyl hy met slangagtige
bewegings deur die water gly.
Anders as die meeste ander watervoëls
is daar geen olie in sy vere nie
en sukkel hy ’n bietjie om soos
eende op die water te dryf. Dit
beteken egter dat hy beter kan duik.
Die slanghalsvoël moet sy vere
behoorlik laat droog word as hy
klaar geduik het
En duik moet hy, omdat hy sy prooi
onderwater deurboor met ’n spesiaal
aangepaste verlengde snawel.
Hy vreet meestal vis, maar ook
ander waterdiere soos slange, paddas,
slakke en skaaldiere.
Ná ’n duikepisode is sy vere so vol
water dat hy nie juis kan vlieg nie.
Daarom het slanghalsvoëls die
gewoonte om met wyd oopgestrekte
vlerke op ’n stomp in die water te
sit en uitdroog. Dit help ook om hul
liggaamstemperatuur weer warmer
te kry.
Die slanghalsvoël, Anhinga rufa, is
ongeveer 80 cm lank. Volwasse
mannetjies in broeiverekleed het ’n
rooibruin kop en nek met ’n lang wit
streep van die oog tot op die nek.
Die slanghalsvoël deurboor prooi met sy lang, skerp snawel
Foto: Wikipedia
Wyfies en nie-broeiende mannetjies
het ’n ligbruin gesig en keel. Die
snawel is geel, die bene swart, rugvere
grys met ligter strepe, en die
oë geel.Die slanghalsvoël neem net een
maat vir die res van sy lewe. Die nes
is ’n platform van stokke en ander
plantmateriaal en kan gebou word
in die vurk van bome, tussen riete,
op eilande of bo-oor water. Twee
tot ses wit eiers word gelê.
Hulle bou neste in kolonies saam
met ander soorte voëls soos ibisse,
reiers en duikers. Slanghalsvoëls
slaap snags in groepe van 10 tot 50,
maar soek bedags alleen kos.
Jy sal die slanghalsvoël rondom
varswaterdamme, mere en stadig
bewegende strome kry, maar kan
hulle ook partykeer sien by kusstrandmere
en riviermondings.
|