Voer jou varkie vet Print E-mail
News - Rubrieke
Saturday, 21 October 2017 18:14
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Dit is nie die heel maklikste takie om in hierdie ekonomiese klimaat nog sente in ‘n spaarvarkie te gooi nie. Oor die algemeen is Suid-Afrikaners ook nie eintlik bekend vir hulle spaarsamigheid nie. Die Nasionale Tesourie het op 1 Maart 2015 die sogenaamde ‘belastingvrye beleggings’ bekend gestel om spaar aan te moedig.

Spek
Wat voer ek my vark en hoeveel spek kry ek vir myself? Aanvanklik was die jaarlikse limiet vir bydraes R30 000 (R2 500 per maand). Dit is vanaf 1 Maart 2017 verhoog na R33 000 per jaar (R2 750 per maand).

Daar is egter ook ‘n leeftyd-bydraelimiet van R500 000. Indien jy die limiete oorskry sal jy beboet word teen ‘n vaste koers van 40%. Dan is daar ook die gebruik-dit-of-verloor-dit beginsel wat van toepassing is. Indien jy minder as die toegelate R33 000 bydra, kan die verskil nie na die volgende jaar oorgedra word nie. Rente, dividende en kapitaalwins wat op ‘n belastingvrye belegging verdien word is belastingvry.

Wie
Wie mag in hierdie produk belê? Dié produk is nie beskikbaar vir regsentiteite (soos BK’s, maatskappye en trusts) nie. Dit kan in die naam van enige individu gehou word, solank die mens ‘n bankrekening in sy eie naam besit.

Skuif
Mag ek tussen verskillende produkverskaffers “rondskuif”? Dit blyk dat dié opsie eers beskikbaar sal wees vanaf 1 Maart 2018. Stelsels van batebestuurfirmas moet van so ‘n aard wees dat hulle kan verseker dat beleggers steeds aan die jaarlikse en lewenslange limiete voldoen wanneer oordragte plaasvind. Alhoewel dit steeds die belegger se verantwoordelikheid bly om sy/haar beleggings te monitor, mag produkverskaffers nie meer as die toegelate limiet aanvaar in hulle eie produkte nie. 

Onttrekkings
Wat van belasting op onttrekkings? Dit gebeur mos net wanneer ’n mens dit die minste verwag. Die yskas maak nie meer koud nie, om nie eens te praat van die nuwe sport- en skoolklere wat boetie nodig het omdat hy oornag in ‘n reus verander het nie.

Die goeie nuus is dat ‘n geldjie uit die belegging getrek kan word sonder dat daar belasting betaalbaar sal wees. Die slegte nuus is dat dit weer deel sal vorm van die jaarlikse limiet indien jy dit terug wil sit.

Besluit
Hoe neem ek ‘n ingeligte besluit? Dit is altyd raadsaam om jou makelaar of finansiële adviseur te kontak. Hulle werk op ‘n daaglikse basis met ‘n wye reeks produkte en is deeglik bewus van die opbrengste en slaggate. Na gelang van elkeen se omstandighede mag daar dalk beter opsies beskikbaar wees. 

 

© 2024 Die/The Bronberger