Dit is moeilik om die heuningwyser
te ignoreer as hy besluit
het jý is die een wat hy na ’n
heuningkoek gaan begelei. In sy
gedagtes sal geen intelligente mens
mos ’n byekorf ontdek en dan bloot
verby loop sonder om die heuning
uit te haal nie.
Rasend van opgewondenheid dat
dié tweevoetige soogdier sy bevele
so getrou gevolg het, sal hy op ’n
tak vir sy stukkie van die strooptog
sit en wag. En behoede jou as jy nie
die koek met hom deel nie. Die
volkstrommel is vol van staaltjies
waar heuningwysers jou volgende
keer in die kake van ’n leeu inlei.
Onvolwasse grootheuningwyser
Foto: Nick Bray
Begelei
Die grootheuningwyser se Latynse
naam, Indicator indicator, verwys
juis na dié voëltjie se begeleidingstalent.
Dit is sy helderwit buitestertvere
wat ’n mens op sy swiepende
spoor hou. En natuurlik die konstante
skel gekwetter van sy gidsroep.
Die res van die voëltjie se vere is
maar valerig en onopvallend.
Die mannetjie het ’n pienk snawel,
swart keel, donker kroon en wit
oorvlekke. Die wyfie is sonder die
mannetjie se gesigskenmerke en het
’n swart snawel. Onvolwassenes het
’n geel skynsel op die onderste dele
en ’n donkerbruin rug.
Hulle word ongeveer 20 cm lank en
weeg omtrent 50 g. Die roep wat
hul gebruik om hul gebied af te
baken, weergalm gereeld in die
Bronberg-gebied. Dit klink soos ‘Vik-torrr-
Vik-torrr’.
Heuningwysers vreet nie net heuning
nie, maar bykans alles in byneste;
van die larwes tot waswurms
en byewas. Hulle het die vermoë
om, met die hulp van ensieme wat
’n ingewikkelde chemiese proses tot
gevolg het, byewas af te breek. Die
enigste ander voëls wat oor dié vermoë
beskik is die speg, aan wie heuningwysers
verwant is, en ’n paar
soorte seevoëls.
Grootheuningwyser met
?n stuk heuningkoek
Foto: Nigel Denis
Parasiet
Die speg se nes is dan juis een van
dié wat die grootheuningwyser parasiteer.
Min mense weet dat heuningwysers
broeiparasiete is en hul
eiers in ’n gasheer se nes lê.
Grootheuningwysers verkies
gatneste soos die van spegte,
houtkappers, glansspreeus,
byevreters, kakelaars en selfs groter
swaeltjies.
Drie tot sewe wit eiers word gelê,
elkeen in ’n aparte nes van ’n ander
spesie voël. Die kuiken broei uit met
’n soort haak aan die snawel wat hy,
terwyl hy nog blind en sonder vere
is, gebruik om die gasheer se
kuikens dood te maak.
Al word dié kuikens deur ander
voëls grootgemaak, weet hulle baie
goed dat hulle heuningwysers is.
Hulle assosieer met ander heuningwysers
by byneste waar die onvolwassenes
die volwassenes domineer.
Dit is dan ook hoofsaaklike
onvolwasse heuningwysers en
wyfies wat mense en diere, soos
ratels, na byneste lei. Die mannetjies
vreet alleen in neste waar die bye
uit is in die dag, of vroeg in die
oggend terwyl die bye nog nie
aktief is nie.
Die grootheuningwyser vreet ook
ander vlieënde insekte en sal diere
volg om te kyk watter insekte opgejaag
word. |