Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton
Lianie O’Neill
Einde van die finansiële jaar lê om die draai. Dit is darem een jaareinde wat nie met die geknal van klappers aangekondig word nie, maar eerder met ‘n gesug . . . Veral onder die groepie wat ons die ‘voorlopige belastingpligtiges’ noem. Vir hulle is 28 Februarie die tweede voorlopige belastingbetaling.
Wie is dié groepie en hoe weet jy of jy nie ook een van ‘hulle’ is nie? Indien jy ‘n salaristrekker is wat maandeliks belasting op jou salaris betaal en as dit jou enigste bron van inkomste is, dan is jy nie een van ‘hulle’ nie.
Die groepie is dus daardie mense wat uit ander bronne ‘n inkomste verdien, soos huurinkomste, rente-inkomste, besigheidsinkomste en dies meer. Selfs al verdien jy ‘n salaris saam met ander inkomste, is jy steeds ‘n voorlopige belastingpligtige. Maatskappye en trusts is outomaties ook voorlopige belastingpligtiges.
Maar hoekom moet sommiges ‘ekstra’ belasting betaal? Dit is glad nie die geval nie. Die stelsel van voorlopige belasting is daarop gemik om die belastinglas te versprei. Dit word gebaseer op ‘n vooruitskatting van die jaarlikse inkomste en is betaalbaar in Augustus (die eerste periode) en Februarie (die tweede periode). Wanneer jy dan jou belastingopgawe voltooi word hierdie ‘vooruitbetalings’ afgetrek van die finale belastingskuld.
Alhoewel SARS baie ‘gaaf’ is om belastingbetalers op dié manier te ‘help’, moet hierdie opgawes (IRP6) betyds ingedien en betaal word. Daar kan ’n boete gehef word op laat betalings asook onderskattings. |