Skaam Verby van Zwavelpoort skryf:
Rona se brief in die September uitgawe van Die Bronberger het my sentimente presies beskryf. Die mode van gastehuise
en lodges om deurlose badkamers vir sy gaste te
voorsien, is ’n aardige ongewenstheid. Ek dink dit het
meestal dalk met plek te doen, want die kamers en badkamers
is so klein dat jy sukkel om jou te draai sonder om
ernstige beserings op te doen.
Maar dit het my ook laat dink aan die dag toe ek en my
man in ’n regte plattelandse hotel, met badkamerdeur en
al, tuisgegaan het. Dit was my verjaarsdag en dié oggend is
ek die badkamer (met stewige outydse deur) binne om vir
die dag te gaan “tittewyt”. My man is al vroeg uit om vir
my blomme op die dorpie te gaan soek en ek was alleen in
die kamer.
Toe ek nou mooi en klaar is, opgedollie en reg vir my verjaarsdag,
wil daardie stewige badkamerdeur nie oop nie.
Probeer soos ek wil, die deur sit vas en ek sit vas. Hoog,
amper teen die plafon sit die enigste venstertjie in die plek,
wat op ’n binneplein uitkyk.
Benoud klouter ek toe tot bo op die toilet se spoelbak, dit
nadat die toiletdeksel eers onder my gebreek het en ek
met my voet kniediep in die kan beland het.
Met my neus by die klein venstertjie uitgedruk trek ek toe
die aandag van ’n kelner wat my eers baie verbaas en skepties
aangestaar het. Eindelik roep die kelner toe die hotel
se faktotum en dié het met die hulp van die binnegoed van
sy gereedskaptrommel ná ’n halfuur se gespook die deur
wortel-en-tak afgehaal.
Toe ek my vryheid uiteindelik terugkry en vuil en nat by
daai deur uitstap, wag ’n hele verwelkomingskomitee van
kroegman tot kok en bestuurder in die kamer saam met my
man en almal skree: “Happy Birthday!” Die verleentheid
was byna ondraaglik. |