Ons ontvang (en verwelkom) dikwels foto's uit die Bronberg-gebied wat deur ons lesers geneem is. Dit is duidelik dat baie van ons kontrei se mense passievol is oor hulle omgewing en daarby vernuftige fotograwe is.
Ons het besluit om voortaan plek in te ruim om dié foto's op ’n gereelde basis op 'n spesiale fotoblad, of -bladsye met almal te deel.
Dean, nege jaar, en Sinead Wise, 11 jaar, het behoorlik in die herfsblare baljaar. Dié twee is Marizanne van der Berg van Kleinfontein se kleinkinders. Die foto is deur hulle ma, Anso Wise, geneem
Die aalwyne blom ywerig oral in ons gebied. In die agtergrond wys die son sy oggendgesig oor die Bronberg. Gene de Lange van Bashewa het dié foto op 'n winteroggend met sonsopkoms geneem
Ben Geldenhuys se brakkie het blykbaar die vorige uitgawe van die Bronnie baie geniet. Ben het dié foto op ons Facebook-blad geplaas en gemeld dat die beagle-hondjie duidelik nie baie vinnig lees nie en by die voorblad vasgehaak het
Grasbale bied nie net uitkoms as weiding in die winter skaars raak nie, dit verskaf ook 'n uitdaging en pret as jy 'n kannetjie is wat op 'n plaas kuier. Christo de Jager het dié foto van vier nefies naby Bronkhorstspruit geneem. Van links staan Jaen-Pierre Franken, Ruan de Jager, Christiaan Franken en Morné de Jager
|