Waterskaarste maak dat meer tuiniers op soek is na plante wat nie gou tweede kom in ‘n droogte nie. Die immergroen sandolien het min water nodig en omdat hy vinnig kan groei, ook in slegte klipperige grond, maak hy gou ‘n mooi lewendige heining. Sy wortels beheer erosie en hy herstel vinnig na brandskade.
Bosysterhout, gansiebos, sandolyf en ysterhoutbos is ‘n paar van dié boompie se benaminge. Hy het ‘n wêreldwye verspreiding en die plaaslike sandolien het drie subspesies, naamlik Dodonea viscosa, D angutissima en D angustifolia.
Vrug
Medisyne
‘n Aftreksel van die sandolien se blare word tradisioneel vir verkoues, griep, masels en rumatiek gebruik. Sy wortels word ook al eeue in oostelike en suidelike Afrika aangewend om verkoues te voorkom.
Wetenskaplikes het uitgevind dat dié boompie gebruik kan word as anti-inflammatoriese en anti-bakteriese middel.
Dit is lank reeds bekend dat sy blare ‘n verdowende uitwerking het en gekou word vir ‘n stimulerende effek. Dit is seker omdat die blare amper as giftig beskou kan word – beeste wat genoeg sandolienblare vreet, word beslis vergiftig.
Sy ander medisinale gebruike is vir koors, seer keel, bors- en maagaandoenings, velirritasies en selfs vir kanker.
Nuttig
Die tweeslagtige boom se vrugte bevat ‘n voedingsmiddel gelykstaande aan hops en dit kan as veevoer dien. Die blomme trek bye aan en word in baie byeboerderye gebruik. Die harde, swaar, termiet-bestande hout maak sterk heiningpale, handvatsels vir gereedskap en ook ‘n goeie houtskool en vuurmaakhout.
Sandolien is die heel bekendste vir sy erosie-beheer en grondbewaring. Sy wortels bind grond saam en hy word gebruik om moerasse te herwin en sandduine te beskerm. Die boom is egter gereeld met wit dopluise besmet en is stinkgoggas se gunsteling tuiste.
Blare en blomme
Struik
Die sandolien is eintlik meer van ‘n struik as ‘n boom – hy word maar tussen twee en agt meter hoog. Sy sytakke is roesrooi en gomagtig en sy stam ‘n donkergrys wat afdop.
Sy blare is liggroen, lank en dun. Dit lyk asof sy blare altyd blink omdat dit ‘n gomagtige uitvloeisel afskei.
Die blomme se kelkblare is ‘n onopmerklike bleekgroen met bruin meeldrade en daar is geen kroonblare nie.
Die sandolien se klein vruggies is ook bleekgroen, elk met drie vlerkies wat ligbruin of koraalkleurig is. Die saadjies is swart en word deur die wind versprei.
|