Glasogies se ontydige verveerdery was vir ‘n lang ruk ‘n raaisel. Dit lyk of hulle vroeg in die winter weer begin verveer nadat hulle jaarlikse ververing, wat in Februarie begin, reeds verby is.
Daar is toe gevind dat glasogies meer gereeld nektar vreet in die winter. Omdat hulle sulke kort bekkies het, koek die nektar en stuifmeel die vere op hulle voorkoppe en hulle verloor dan dié vere.
Nektarvreters soos suikerbekkies het lang snawels wat beteken dat die nektar nooit aan hulle voorkopvere raak nie. Die kenners sê dat alhoewel glasogies gereeld bad, die water nie die nektar van die vere kan verwyder nie.
Hoe hanteer ‘n voëltjie so klein soos die glasogie, wat maar 11,7 gram weeg, dié hitteverlies in die winter? Blykbaar verloor hulle nie so baie hitte as dit net hulle voorkopvere is wat uitval nie. Dit help ook dat hulle in die winter in groot groepe styf teen mekaar slaap.
Die Kaapse glasogie, Zosterops pallidus, is omtrent 12 cm lank en word aan die wit ring om sy bruin oog uitgeken.
Die glasogie
Die kroontjie van sy kop en sy boonste dele is groen-geel. Dié kleur is effe ligter op sy keel en onder sy stert. Die res van sy onderkant varieer in kleur afhangende van die gebied waarin hy hom bevind, van ‘n gryserige groen of geel met ‘n witter deel op die bors, tot witterig met rooibruin of pienkerige flanke.
Sy snawel is swarterig met ‘n blou-grys basis aan die onderkaak. Sy bene en voete is ook blou-grys.
Glasogies word gewoonlik in paartjies of in vinnig-bewegende groepies gesien wat aanhoudend klets terwyl hulle bome en struike deursoek vir insekte, spinnekoppe, nektar, vrugte en blomblare.
Hulle bou van Oktober tot Desember nessies, wat ‘n klein koppie-vormige struktuur is. Dit word gebou van fyn gras, stingels, wortels, hare of selfs stukkies ligeen of huidmos wat saamgebind word met spinnerakke en uitgevoer word met plante of vere.
Die nessie word in die dun horisontale vurk van ‘n struik, bos of boom gebalanseer. |