’n Mens hoor altyd hoeveel
liters water uitheemse bome
per dag drink. Die idee dat ’n
inheemse boom ’n fontein van uitdroging
kan red, val dan vreemd
op die oor. Die saliehout is so ’n
boom en sy reddingsaksie het te
doen met sy wortelstelsel.
Die kenners sê dat ’n fontein wat
besig is om op te droog dikwels
gered kan word as die regte soort
plante in en om die spons-gebied
of die oog van die fontein geplant
word. Saliehout is ideaal vir dié
doel omdat sy fyn, maar aggressiewe
wortelstelsel help om die fontein
te stabiliseer. Sy wortels kan
selfs in vloeiende water groei en
hy is ook ’n waardevolle boom om
walle rondom damme, strome,
riviere en spruite te stabiliseer.
Saliehout kom natuurlik in rotsagtige
gebiede rondom dreineringslyne
voor, veral dié wat permanente
water bevat. Hy is volop rondom
die strome en kuile van Nkwe
Plesieroord se rotsagtige koppies.
Dié saliehout groei langs Nkwe se strome
Heining
Saliehout, Buddleja salviifolia, is ’n
immergroen boom wat vier tot agt
meter hoog word. As hy nie gesnoei
word nie, bly hy ’n bos wat
nooit hoog genoeg word om ’n
boom genoem te word nie.
Saliehout maak ’n pragtige heining
met die trosse blomme waarvan
die kleur wissel van witterig tot ligpers
en selfs ’n diep, donker pers.
Hy blom van Augustus tot
Oktober.
Dié is een van die beste bome om ’n verskeidenheid insekspesies, en
daarom insekvretende voëls, nader
te lok. Ten minste 15 spesies
skoenlappers besoek dié bome as
hul blom. Die blomme het ’n redelike
hoeveelheid stuifmeel en nektar,
wat dit ’n gewilde boom onder
byeboere maak.
Saliehout se blomkleur wissel van wit tot ligpers en selfs ?n diep, donker pers
Medisyne
Tradisioneel word ’n afkooksel van
die wortels gebruik as doepa vir
hoes en koliek. ’n Aftreksel van die
blare word aangewend as oogspoelmiddel.
Vars of gedroogde
blare kan gekook word as ’n soort
tee. Dit moet sonder melk, met ’n
klein bietjie heuning by, gedrink
word.
Die hout is hard, swaar en liggeel
met ’n bruin hart en is tradisioneel
gebruik om spiese en visstokke
mee te maak.
Jy kan saliehout groei deur saad of
snitte. Snitte werk vinniger en hardehout
snitte kan geneem word in
die aktiewe groeifase en moet
behandel word met wortelstimulerende
hormoonpoeier. Snitte
moet geplant word in gewaste
riviersand en klam gehou word vir
drie tot vier weke. Snitte wat begin
worteltjies maak kan in sakke
geplant word in goed gedreineerde
grond.
Jong plante moet vir ten minste die
eerste seisoen teen ryp en wild,
wat graag die blare en sagte jong
takke vreet, beskerm word.
Saliehout groei vinnig teen
600 – 800 mm per jaar. Volwasse
saliehout is ryp- en droogtebestand
en herstel gou ná veldbrande. |